Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Gesuiwer deur die vuur - 2 Oktober 2026

Imogen Campbell
 
'n Smeltkroes is vir silwer, en 'n smeltoondjie vir goud, maar die Here toets harte.  Spreuke 17:3, 2020-vertaling
 
Ek het onlangs van Leon Kluge se werk bewus geword. Hy is die tuinboukundige en landskapontwerper wat beskryf hoe vuur die katalisator is vir die herlewing van fynbos, die inheemse plante van die Kaapse Blommeryk, die kleinste van die wêreld se ses planteryke. (https://iol.co.za/travel/south-africa/2026-04-08-leon-kluge-proves-there-is-life-after-fire-in-his-stunning-cape-flora-showcase/#google_vignette
 
Hy sê: "Net soos die fynbos, omdat iets vernietig is nie ophou groei nie .... dit het eintlik daardie ontwrigting nodig om te herleef. Saad wat nie voorheen kon groei nie, groei skielik ... Nuwe lewe ontstaan waar dit voorheen nie kon nie."
 
Ek glo dieselfde beginsel geld vir ons almal wat dapper Jesus se bevel "volg My" aanvaar het. Ons weet maar net te goed dat beproewings en versoekings aan die orde van die dag is.
 
En as Christene is ons in 'n oorlog betrokke. Die vyand van ons siele voer 'n onverbiddelike stryd. Soms wil ons net van hierdie realiteit ontsnap, televisie kyk en roomys eet, of wat ook al gerieflik en maklik is.
 
Vir moeë siele, diegene wat daardie eerste opwinding van geloof verloor het, hou die maklike manier 'n unieke gevaar in. In 'n sekere sin is dit die vuur van beproewing wat ons help om ons geloof te verdiep en met die Here te wandel – die maklike manier bring ons selde nader aan Hom.
 
Soos die mense van ouds in die Bybel kon getuig, tye van beproewing kom dikwels wanneer ons heel gemaklik is. Skielik, BOEM! en ons loop ons teen struikelblokke vas en niks verloop glad nie.
 
Wanneer dit by die suiwerende vuur van God se hand kom, weet ons dat Hy ons uit liefde suiwer. Maar daar is niks soos die smelter se vuur (Maleagi 3:2-4) om te wys waarvan 'n persoon gemaak is nie. Soms ontdek ons dat ons nie so getrou of veerkragtig is as wat ons gedink het nie. Dit is dan wanneer ons onsself sien soos ons werklik is.
 
Het jy jouself onlangs in die smelter se vuur bevind? Voel jy 'n bietjie moedeloos? Wel, jy is nie alleen nie. Baie gelowiges wat die Here gebruik het om sy koninkryk te bevorder moes opofferings maak en probleme verduur.
 
Vir diegene wat die voorreg gehad het om saam met Jesus te wandel tydens sy aardse bestaan, is daardie voorreg vergesel van swaarkry en lyding. Volgende week ondersoek ons die lewens van Jesus se aardse familie en wat dit vir hulle beteken het om Hom in hulle midde te hê.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die smelter se vuur. Soms neem dit 'n vuur om die suiwerheid wat U in ons lewens verlang, te bekom. Gee dat ons deur ons lewens U sal vereer. Amen.
Next article: Jy is nie alleen nie: Ek is by jou - 1 Oktober 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.