Die verhaal van heerlikheid - 5 Oktober 2026
Imogen Campbell
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes 1:14, 1983-vertaling
In 'n brief wat in 1864 geskryf is, skryf Abraham Lincoln, die 16de president van die Verenigde State van Amerika: “In regard to this Great Book, I have but to say, it is the best gift God has given to man. All the good the Savior gave to the world was communicated through this book.”
Aan die begin van hierdie verhaal het God en die mens vrylik met mekaar in die Tuin van Eden omgegaan. Toe het daardie groot antagonis, Satan, Eva verlei. Die sonde het die mens van God geskei, en uiteindelik is hulle uit die Paradys verban.
In Eksodus 3:14 lees ons dat in die brandende doringbos God Homself as "Ek is" geopenbaar het. Die vuur is 'n sigbare manifestasie van God se heilige teenwoordigheid.
In die Ou Testament het God ook as 'n wolk- en vuurkolom in die woestyn aan die Israeliete verskyn nadat hulle uit Egipte gevlug het. Dit word 'n herhalende motief, byvoorbeeld by die Berg Sinai was daar rook en die mense het gebeef. Terselfdertyd het Moses instruksies ontvang vir die tabernakel, 'n plek waar God kon woon.
Daar het voortdurend 'n vuur gebrand op die altaar in die tabernakel. Een keer 'n jaar het die hoëpriester die allerheiligste plek binnegegaan en wierook gebrand terwyl hy die genadetroon, die plek wat met God self geassosieer is, genader het.
Daniël, die profeet, beskryf 'n rivier van vuur wat uit die troon van God gevloei het, Jesaja vertel van serafs wat, wanneer hulle roep, die tempel met rook gevul is, en later word Jesus met vurige oë uitgebeeld.
Tussen baie ander benamings is Jesus ook die groot Hoëpriester wat in die hemelse tempel dien. Jesus het mens geword en onder mense kom woon om die Wet en die Profete te vervul. Inderdaad goeie nuus!
"Want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het." (Hebreërs 4:15, 2020-vertaling)
In Openbaring 21:2-3 lees ons van die nuwe Jerusalem, die nuwe stad van God wat soos 'n bruid gereedgemaak is. God se uiteindelike woonplek. God die Almagtige, die Lam, is in sy tempel. (Openbaring 21:22)
Oor die volgende aantal weke gaan ons die spore van Jesus se storie volg – van sy gesin en uitgebreide familie, die profete wat gestuur is, die boodskap aan die nasies en wat dit vandag vir ons as die kerk beteken. Aan God die eer, groot dinge het Hy gedoen.
Gebed: Here Jesus, ons bid dat die waarheid van u Woord vir ons duidelik sal word wanneer ons dit bestudeer. Gee dat die Woord van God waarlik 'n lamp vir ons voet sal wees. Amen.