Sterf ter wille van die saak - 27 Oktober 2026
Imogen Campbell
Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe. En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.Hebreërs 11:36-40, 1983-vertaling
In "Unlocking the Bible" skryf David Pawson die volgende: "Ek onthou hoe ek met my rug na die Colosseum in Rome gestaan en uitgekyk het oor 'n groen heuweltjie waar Nero se paleistuin was. Ek het gedink aan die dag toe hy 'n braai in daardie tuin gehou het. Hy het 'n groep Christene wat bedek was met teer en pik, aan pale wat in die tuin was laat vasbind en hulle aan die brand gesteek. Hulle is lewendig verbrand om lig vir sy partytjie te verskaf." [vry vertaal]
Eeue later is William Tyndale (1494-1536) in Engeland gebore. Dit was sy taak om die Bybel in Engels te vertaal wat baie teenstand gekry het. Uiteindelik is hy verraai en het op die brandstapel aan sy einde gekom.
Volgens oorlewering was sy laaste woorde 'n gebed: "Here, open die koning van Engeland se oë." Sy pionierswerk het die fondament vir daaropvolgende Engelse Bybelvertalings gelê.
Volgens sommige geleerdes kan vervolging die kerk versterk. Die vroeë Christene sou hulle nie kon indink hoe die evangelie oor die wêreld heen sou versprei nie.
Pastoor Bobby Chandler – met spesifieke verwysing na die vroeë dood van Jakobus, die eerste apostel wat gemartel is – waarsku daarteen om die heiliges met mekaar te vergelyk. Hy stel dit teenoor Petrus wie se lewe in daardie tyd gespaar is. Hy is deur 'n engel uit die tronk gelei. Pastoor Bobby verduidelik dat God nie die gelowiges wat gemartel is minder liefgehad het as diegene wat gespaar is nie. Wat dink jy?
In "Jesus the Same" skryf Charles Jefferson: "Jesus kyk na dieselfde toneel en gee daaraan 'n ander interpretasie. Hy sien hoe goeie manne kom en hulle dienste aan die wêreld bied net om verwerp en verstoot te word. Een van hulle word gestenig; 'n ander word geslaan; nog een word doodgemaak.
"Hulle lyke lê in hope opgestapel, maar vir Jesus is dit nie 'n bewys van God se onverskilligheid nie – dit is 'n bewys van sy lankmoedige geduld; dit is omdat Hy nie gewillig is dat enigeen verlore moet gaan nie, dat Hy deur die eeue heen profete en apostels, helde en heiliges stuur om die hemelse boodskap aan die verwarde en sondige mensdom te verkondig." [vry vertaal]
'n Duidelike voorbeeld van "moenie die boodskapper skiet nie" as daar al ooit een was. Dink daaroor na. Ek weet dit is moeilik.
Gebed: God van hemel en aarde, U het u lewe vir ons neergelê. Ons prys U vir elke gelowige wat ondanks al die teenkanting vas gestaan het. Amen