Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Kan ander Hom in ons sien? - 18 November 2026

Benescke Janse van Resnburg
 
Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.  Efesiërs 6:7, 1983-vertaling
 
Ek weet nie almal wat hierdie stukkie lees, is in ’n voltydse werk nie. Tog is daar elke dag iets wat jy moet doen. Die vraag is net: Doen ons wat ons doen met ’n hart vol vreugde of kla ons heeltyd?
 
Ek lees onlangs die storie van die Skotse sendeling, David Livingstone. Hy is in 1813 in Skotland gebore. Nadat hy as dokter gekwalifiseer het, het hy na Afrika vertrek met ’n droom om God se Woord aan die mense daar wat nog nooit van Jesus gehoor het nie, te verkondig.
 
As dokter en sendeling het hy duisende kilometers deur soms uiters gevaarlike gebiede gereis. Soms was daar uitdagings, gevaar, wilde diere en siekte. Hy het egter nooit moed opgegee nie. Sy liefde vir God en die plaaslike mense was opreg. Sy doelwit was om soveel moontlik mense met die evangelie te bereik.
 
Jare nadat Livingstone gesterf het, het ’n groep ander sendelinge die dorpie besoek naby aan waar Livingstone gewoon het. Toe hulle met die plaaslike mense oor Jesus begin gesels, het die mense se gesigte opgehelder: “Ons ken Hom. Ons ken hierdie Jesus. Hy het hier gewoon!”
 
Die sendelinge het egter agtergekom dat die mense nie van Jesus self praat nie, maar van Livingstone. Sy vriendelikheid, nederigheid en manier van leef het vir die mense daar gewys wie Jesus is sonder dat hy dit altyd kon kommunikeer. Vir hulle was dit asof Jesus self daar tussen hulle gewoon het.
 
Die vraag wat ons vandag aan onsself moet stel: Demonstreer ons Jesus se liefde in so ’n mate aan ander dat hulle Hom ook beter wil leer ken? Luister weer na die woorde in Efesiërs 6:7: “Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.”
 
Kom ons kies om elke taak ophande met ’n gesindheid aan te pak wat vir die mense om ons iets van Jesus wys. Kom ons kies om ’n verskil te maak waar Hy ons ook al plaas.
 
Gebed: Vader God, baie dankie vir die voorreg dat ons vanoggend kon wakker word en vir die krag wat U ons vir hierdie dag gee. Help ons asseblief om alles wat ons aanpak, met ’n goeie gesindheid te doen, asof ons dit vir U doen en nie vir mense nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Next article: God lei en voorsien vir ons - 17 November 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.