Benodig jy wysheid? - 19 November 2026
Benescke Janse van Rensburg
Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: "Hier is die pad, loop hierlangs." Jesaja 30:21, 1983-vertaling
Min van ons kan ons lewens sonder Google Maps indink. Wanneer ons op pad is êrens heen, tik ons die adres in en ry. Ons ry selfs met ’n geruste hart deur onbekende gebiede waar ons nog nooit was nie, omdat ons vertrou dat die aanwysings op die toep ons sal lei na waar ons moet wees.
Ek lees egter ’n snaakse storie raak van ’n Poolse toeris wat ’n tyd gelede Venesië (ook bekend as die stad met die waterstrate) besoek het. Sy het ingetik waarheen sy wou stap en bloot die stem van die GPS gevolg. Die toeris was besig om na iets op haar foon te kyk en was so diep in gedagte dat sy met die trappe afgestap het in die rigting van die water. Toe sy besef haar voete raak nat, het sy só groot geskrik dat sy in die water beland het.
Die voorval is op video vasgevang en het gou vir baie lag en kommentaar op sosiale media gesorg. Die onderskrif van die video was: “Wanneer Google Maps sê: ‘Hou reguit aan,’ maar jy’s in Venesië.” Een van die reaksies was: “Miskien moet ons ophou om blindelings die GPS te volg en eerder ons koppe ook gebruik!”
Het jy dalk ook vandag wysheid en leiding nodig? Nie noodwendig om met jou voertuig by jou volgende bestemming uit te kom nie, maar om te weet watter rigting om met jou lewe in te slaan. Moet jy by jou werk bedank? By watter skool moet jy jou kind inskryf? Watter kursus moet jy gaan studeer? Die lys gaan aan.
In Jesaja 30:21 word ons herinner dat die Heilige Gees elke dag by ons is. Hy is ons Leidsman, en hierdie belofte is iets waaraan ons kan vashou: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’ ”
Anders as die GPS, lei die Heilige Gees ons op die regte pad – weg van waterstrate en onnodige kronkelpaaie. En hoe meer tyd ons in God se teenwoordigheid deurbring, hoe beter leer ons om sy stem te herken.
Kom ons wees vandag gehoorsaam aan sy leiding en rus in die wete dat Hy ons toekoms in sy hande hou.
Gebed: Vader God, baie dankie dat U ons lei met wysheid wanneer ons by ’n kruispad kom. Help ons asseblief om ons ore te spits en om U te hoor – en te vertrou wanneer ons onseker is oor die rigting wat ons moet inslaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.