God se liefde vir ons wankel nooit nie - 27 November 2026
Benescke Janse van Rensburg
Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie. My vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet. Jesaja 54:10, 1983-vertaling
Vir my vriendin Ronel, was dit ’n geweldige skok toe sy hoor dat haar pa selfdood gepleeg het. Jare lank het sy spesifiek gebid dat God haar pa sou beskerm en verhoed dat hy sy eie lewe sou neem – juis omdat hy ’n stryd met depressie gevoer het. En toe gebeur dit.
Ek onthou haar woorde: “Toe ek hoor dat my pa homself geskiet het, het dit gevoel asof iemand my ’n vuishou in my maag gee. Terwyl ek langs sy liggaam gestaan het om afskeid van hom te neem, het iets binne my gesterf.” Sy kon nie meer na God uitreik nie. Die teleurstelling en seer het haar hart koud gemaak.
Twee jaar lank het Ronel met hierdie pyn en woede geworstel. Wanneer mense vir haar gesê het dat God oral is, het dit haar net kwater gemaak. “As Hy dan oral is,” het sy gewonder, “hoekom het Hy nie my pa gekeer om die sneller te trek nie?”
Een aand het iemand haar na ’n kerkdiens genooi. Terwyl sy geluister het na ’n preek oor die wreedheid van die mens en waarom God dit nie altyd keer nie, was dit asof ’n lig vir haar opgegaan het. Die prediker het beklemtoon dat God aan elke mens ’n kosbare geskenk gegee het: ’n vrye wil. Al begeer God ’n verhouding met elkeen van ons, sal Hy ons nooit dwing om enigiets te doen nie.
Daardie besef het haar diep getref. Dit was asof God in daardie oomblik baie naby aan haar gekom het. Soos ’n liefdevolle pa wat sy klein dogtertjie optel, het Ronel beleef hoe God vir haar fluister: “Ronel, Ek was by jou pa. Ek wou so graag hê dat hy nie daardie sneller moes trek nie. Ek het hom gesmeek om dit nie te doen nie. Maar toe hy val, was Ek dáár om hom te vang.”
Hierdie ervaring het vir Ronel genesing gebring. Dit het haar perspektief op wie God is, herstel en haar herinner dat Hy ’n Vader is wat omgee en ons met oneindige liefde omvou.
In Jesaja 54:10 sê God: “Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie. My vredeverbond met jou sal nooit wankel nie.”
Ek weet nie wat jou jaar ingehou het nie. Dalk was daar ’n nuwe baba in die familie, die afsterwe van ’n geliefde, ’n siektediagnose, ’n egskeiding of die ontmoeting van ’n nuwe liefde. In elke seisoen is God daar.
Wanneer ons hartseer is, vertroos Hy ons. Wanneer ons moedeloos is, vul Hy ons harte met nuwe moed. En wanneer ons val, is Hy daar om ons op te tel. Soms stop God nie die storm nie. Hy beskerm ons terwyl ons daardeur stap.
Gebed: Vader God, baie dankie dat ons kan weet dat U ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Help my om in my swaar seisoene te weet dat U my met hoop kan vul. Help my om my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.