Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 20 Julie 2012

HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG

DAG 15: LEEF GELUKKIG... WANT GOD DOEN STEEDS WONDERWERKE!

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: God doen vandag steeds wonderwerke. Hier is twee lesers wat daarvan getuig. Deel gerus jou getuienis by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..]

Leser 1, Atel: “In Mei verlede jaar was ek baie moedeloos met myself. Ek was oorgewig en het ’n lae selfbeeld gehad en kon geen ordentlike klere vir myself vind nie. Een dag, na vele mislukte diëte,  het ek moedeloos besluit om met God oor die saak te gesels. Ek het Hom gevra om my met my gewigprobleem te help aangesien ek weet dat my liggaam sy tempel is. In daardie stadium het ek geen ekstra geld gehad om by ’n program aan te sluit wat my sou help om reg te eet nie.

My ma was vir ’n rukkie weg met vakansie en ek het na haar hondjies by haar huis gekyk. Met haar terugkeer het sy vir my geld gegee. Alhoewel ek dit aanvanklik nie wou aanvaar nie, het sy daarop aangedring. Eers later sou ek besef dat dit, sonder haar medewete, presies die bedrag was wat ek benodig het om by ’n gewigsverliesprogram aan te sluit.

Ek het die program begin en vir die eerste keer gevoel dat God aan my bonatuurlike deursettingsvermoë gee om met die program vol te hou.

Vandag, ’n jaar later is ek 35kg ligter en ek lyk beter as ooit vantevore. Wanneer iemand my vra wat my geheim is om maer te word, is my antwoord eenvoudig: ‘Gebed werk!’ Ek weet dat dit nie aan my eie toedoen was dat ek gewig verloor het nie. God het my gehelp – en Hy help my steeds vandag om my ideale gewig te behou. Ons kan enige struikelblok voor Jesus se voete neerlê, want Hy wil ons daarmee help.”

Leser 2, Arina: “Drie jaar gelede het ek my werk verloor. Dit het gevoel asof my lewe inmekaartuimel. God het my egter gedra en gehelp dat ek en my kinders nooit honger gely het nie. In die laaste week wat my Werkloosheidsversekeringsfonds uitbetaal het, het ek ’n nuwe werk gekry. Die salaris was heelwat minder as waaraan ek gewoond was, maar ek was dankbaar dat God vir my ’n werk voorsien het.

Binne twee weke by my nuwe werk, het die bestuurder my potensiaal raakgesien en my ’n stewige verhoging gegee. Drie maande later het hy my ingelig dat hulle gaan emigreer na Nieu Seeland. Ek kon egter in my pos aanbly totdat ek iets anders gekry het. Gou het ek drie posaanbiedinge gehad en my bestuurder het my help besluit watter pos my die beste sou pas. Eers later het ek besef dat my tyd by daardie maatskappy my selfvertroue in die werkplek herstel het.

Nou, amper 3 jaar by my huidige werk, het ek weer ’n geleentheid gehad om vir ’n hoër pos aansoek te doen. Die onderhoud het uitstekend gegaan. Ek is egter kort daarna ingelig dat die pos gevries is weens die maatskappy se huidige herstruktureringsproses. Alhoewel ’n paar mense is kennis gestel is dat hulle hul werk kan verloor, is my huidige pos en slegs een ander pos landswyd in die maatskappy veilig. Sou ek daardie pos gekry het, sou ek heel moontlik weer aflegging in die oë kon staar.

God het my beskerm en ek weet sonder twyfel vandag dat Hy die toekoms ken en vir ons die beste wil hê.”

Atel en Arina is reg. God is liefde en Hy is betrokke in die detail van ons lewens. Geen saak is dus ooit te groot of onbelangrik om met Hom te bespreek nie. In Jesaja 40:31 lees ons: “...dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” Kom ons vertrou Hom vandag om aan ons ’n oplossing te gee – of dit vir ’n uitdaging in die werkplek of huisgesin is, of jou keuse van ’n huweliksmaat en of jy sukkel om daardie ekstra paar kilo’s af te skud. As dit vir jou belangrik is, is dit ook vir Hom belangrik. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my liefhet en dat ek oor enige saak met U kan gesels. Versterk my om my geloof en vertroue in U te stel en in U te hou totdat my deurbraak kom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.

Kyk na ’n foto van Atel en Arina op die sosiale netwerk, FBook se STORIES VAN HOOP bladsy.

Previous article: Vers n dag - 23 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 19 Julie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.