Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 Julie 2012

HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG

DAG 14: LEEF GELUKKIG... SONDER BEKOMMERNISSE

Deur Benescke Janse van Rensburg

Gedurende die winter help ’n jas om ons teen die koue te beskerm. Tog, besef jy dat ons elke dag van die jaar een van twee jasse dra? Die een jas is lelik, swaar, donker en wollerig. Die ander een is lig en stylvol. Die Woord van God noem hierdie twee jasse: “bekommernis” en “prys”.

Wanneer ons nalaat om vroegoggend die Heilige Gees in ons lewens in te nooi en te kies om met ’n positiewe gesindheid ons lewe te benader, kies die vyand namens ons die swaar, donker en wollerige jas. Met dié jas van bekommernis fokus ons op die negatiewe elemente rondom ons. Ons sien die stygende werkloosheidsyfer of elektrisiteitpryse, die krisisse by die huis of werk of die hoë misdaad- en geweldsyfer. Hierdie dinge veroorsaak dat bekommernis, depressie en vrees ons lewens oorneem terwyl ons lewensvreugde geblus word.

Die alternatief is om vroegdag die Heilige Gees in ons lewens in te nooi en Hom te vra om ons met ’n positiewe gesindheid na situasies rondom ons te laat kyk. Met hierdie jas van prys is ons steeds bewus van die uitdagings en probleme in ons lewens, maar ons is meer bewus van God se grootheid en krag en sy vermoë om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet.

Watter jas dra jy vandag? Een wat jou aftrek en jou lewe versuur of een wat die mense rondom jou inspireer omdat hulle jou positiewe gesindheid begeer? As bekommernis vandag jou lewe domineer, kan jy gerus aan hierdie beloftes van God vashou:

  • ·         1 Petrus 5:7: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle”
  • Psalm 23:4: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my...”

·         Mattheus 5:31-22: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.”

·         Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Werp jou bekommernisse vandag op God. Weet dat Hy jou deur elke donker situasie sal dra. Begin om jou geloof in Hom te plaas terwyl jy jou begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan Hom bekend maak. Doen jy dit, mag jy dalk beleef hoe jou swaar, donker, wollerige jas eensklaps op die grond val terwyl jy trots met ’n ligte, stylvolle jas die toekoms instap! God weet reeds wat jy benodig en Hy sal dit op die regte tyd voorsien! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer is van elke situasie in my lewe. Help my om doelbewus my gedagtes te bewaak en ’n jas van prys eerder as bekommernis te dra. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.

Previous article: Vers n dag - 20 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 18 Julie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.