Vers n dag - 24 Julie 2012
HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG
DAG 17: LEEF GELUKKIG... TE MIDDE VAN TELEURSTELLING
Deur Benescke Janse van Rensburg
Aan die begin van die laaste dag van die Britse Ope Gholftoernooi oor die naweek was dit amper ’n uitgemaakte saak dat Adam Scott as die wenner uit die stryd sou tree. Nie net was hy met vier houe die voorloper nie, maar die wind het sterk gewaai wat die baan moeilik gemaak het vir die res van die spelers om hom in te haal.
Met vier gate om te gaan het Scott se kans tot die titel skielik inmekaar begin tuimel toe hy vier brouhoue op die laaste vier gate aanteken. Dié insinking was genoeg om plek te maak vir ons eie Ernie Els om die gesogte Claret Jug in die tweede keer in die lug te steek en só ’n viermalige major-kampioen te word.
Alhoewel Scott goeie sportmangees getoon het deur sy mede-spelers se hande te skud en te glimlag, kon sy absolute teleurstelling op sy gesig tydens die oorhandig seremonie nie weggesteek word nie.
Dié teleurstelling het my laat dink aan die teleurstellings wat soms ons paaie onverhoeds kruis. Jy het dalk vir ’n spesifieke pos aansoek gedoen. Jy was die gunsteling kandidaat, maar ’n jonger kollega met minder ervaring is in die pos aangestel. Jy was oortuig dat jy die regte lewensmaat ontmoet het. Alles het reg gelyk en gevoel, maar toe word die verhouding beëindig. Of jy het iets vertroulik met ’n vriend of familielid gedeel en nou besef dat hulle nie jou geheim bewaar het nie.
Hoe hanteer jy hierdie teleurstelling? Verwyt jy jouself of kies jy om die saak aan God oor te laat met die wete dat Hy in elke saak die laaste sê het? Hy ken die toekoms en ons kan waarlik in Hom rus. In Psalm 62:6 lees ons: “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.” Hy maak deure oop en sluit deure om ons te beskerm. Ons lees immers in Openbaring 3:7: “So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie.”
Wanneer jy dus weer ’n teleurstelling ervaar, kan jy gerus begin om God te dank. Omdat Hy die toekoms ken, is Hy besig om jou karakter te vorm. Dalk beskerm Hy jou tans teen trots, dalk ’n verkeerde besluit of dalk gebruik Hy hierdie moeilike seisoen in jou lewe om jou karakter te versterk vir wanneer jy gereed is vir ’n veel groter deurbraak. Onthou, God is goed en Hy wil altyd vir jou die beste hê. Jy kan dus maar op Hom vertrou om die regte deure op die regte tyd vir jou oop te maak! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat geen teleurstelling ooit te groot is vir U om vir my ten goede te laat meewerk nie. Help my om te midde van elke teleurstelling aan U vas te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.