Vers n dag - 25 Julie 2012
HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG
DAG 18: LEEF GELUKKIG... TE MIDDE VAN ’n GEBROKE HART
Deur Benescke Janse van Rensburg
Verskeie lesers het oor die afgelope reeks vir my gevra om iets te skryf oor hoe mens gelukkig kan leef ten spyte van die verlies van ’n geliefde of ’n gebroke hart.
’n Amerikaanse vlootveteraan met drie toere na die Midde-Ooste, ’n ses-jarige dogtertjie wat pas geleer swem het en ’n man wat later sy liggaam as ’n buffer vir die koeëls sou gebruik toe hy voor sy meisie en haar broer induik om hulle lewens te red. Dié drie mense, asook nege ander, het verlede Donderdagaand vir die laaste keer by die volgepakte rolprentteater in Aurora, Colorado in Amerika vir ’n fliek reggeskuif. Dit was die middernagvertoning van die nuwe Batman-rolprent, The Dark Knight Rises.
Sowat ’n halfuur nadat die rolprent begin het, het die 24-jarige James Holmes die teater met ’n gasmasker, rookbomme en wapens betree. Nadat hy die rookbomme tussen die fliekgangers ingegooi het, het hy wild op die mense begin skiet. Agt-en-vyftig mense is gewond en twaalf het op die toneel gesterf.
Terwyl Holmes, wat ná sy arrestasie na homself as die “Joker” van Batman verwys het, Maandag in die hof verskyn het, het familielede en geliefdes van die gestorwe fliekgangers kranse en emosionele briewe buite die rolprentteater gelê.
My hart gaan uit na diegene wat nooit weer die geleentheid sal hê om hulle geliefdes teen hulle vas te druk of vir hulle te vertel dat hulle hul liefhet nie.
Sit jy ook vandag met ’n gebroke hart? Dalk is ’n geliefde ook op ’n gewelddadige manier van jou af weggeruk? Dalk het ’n derde persoon jou huweliksmaat van jou afgerokkel? Of dalk moes jy na ’n lang siekbed onlangs langs ’n geliefde se oop graf staan? Hierdie verlies laat ’n kraak in ons harte wat net God kan genees. Luister maar na sy beloftes vir as jy weer deur ’n moeilike tyd gaan:
· Psalm 34:19: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.” (1953-hersiening)
· Psalm 147:3: “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.” (1953-hersiening)
· Jesaja 40:29: “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie.”
God is naby aan ons wanneer ons harte gebroke voel. Hy bring genesing en verbind ons wonde en wanneer dit voel asof ons nie meer vorentoe kan beweeg nie, is Hy soos ’n wind van agter wat ons versterk en vorentoe dra.
Waar die dief kom om te steel, te slag en te verwoes, het Jesus gekom om vir ons ’n oorvloedige lewe te gee. Kom ons kies dus om aan Hom vas te hou. Só sal ons beleef hoe Hy ons versterk en sterker aan die ander kant uitbring aangesien Hy ons nooit verlaat of in die steek laat nie! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U in my donkerste uur die naaste aan my is. Bring asseblief genesing in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.