Vers n dag - 3 September 2012
Skuldig!
Xanthe Galanis
Luister, hemele, gee aandag, aarde, want die Here het gesê: Ek het kinders grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in opstand gekom. 'n Bees ken sy eienaar en 'n donkie die krip van sy baas, maar Israel ken My nie, my volk het geen begrip van wat Ek doen nie. Jesaja 1:2-3
Ek is baie lief vir TV-programme wat handel oor die regswêreld en die interessante sake wat prokureurs en advokate moet verdedig. Voor die kern van die saak aangepak word en ons uitvind wie het wat gedoen of nie gedoen nie, verduidelik die aanklaer altyd eers die klag teen die beskuldigde. Jesaja begin sy boek so 'n bietjie soos 'n hofsaak; hy is 'n aanklaer wat die saak vir die jurie stel.
Dit is duidelik hoekom daar 'n klag teen Juda en Jerusalem gelê word, hulle het die heilige verbond wat die Here met hulle gesluit het, verbreek. Hulle is korrup. Hulle hou aan met die sonde en minag God.
Maar wat van die verdediging? Wat het die beskuldigdes vir hulleself te sê? Ek dink hulle was baie verontwaardig want, hierdie mense wat verhoor word, het 'n lang lys van al die "regverdige" dinge wat hulle doen. Hulle sê iets soos: "Maar Edelagbare, ons gee ons tiendes, ons bely ons sondes, ons gaan kerk toe en ons bid." Die probleem is egter hulle houding. Hulle gaan maar net deur die handelinge, sê die een ding op Sondag en doen die teenoorgestelde Maandagoggend.
God haat skynheiligheid – in die tyd van Jesja en steeds vandag. Wanneer mense net deur die godsdienstige handelinge gaan of kerk toe gaan om ander te beïndruk, of om dit wat hulle verkeerd doen te probeer wegsteek, haat God dit. Wanneer jy moet oorweeg of jy 'n regverdige lewe ly, is jou gereelde kerkbywoning bo-aan jou "Ek leef reg"-lys? Of kyk jy ook na hoe jy van Maandag tot Saterdag leef?
Gebed: Here, vergeef my asseblief vir al die kere wat my geloof oppervlakkig en leeg was. Help my om vandag, hierdie week en al die dae wat kom volgens u wil te leef. Amen