Vers n dag - 4 September 2012
'n Uitnodiging van 'n God wat redelik is
Xanthe Galanis
Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet,… Jesaja 1:18-19
Hoe meer ek die Bybel lees en God se woord bestudeer, hoe meer vind ek dat ten spyte van ons skynheiligheid en ongehoorsaamheid die Here ons aanmekaar roep en uitnooi om na Hom toe te kom! En een van die baie wonderlike eienskappe van God is dat Hy redelik is.
As die eerste deel van hierdie hoofstuk van Jesaja klink soos 'n aanklaer wat sy saak stel, klink hierdie deel meer na 'n prokureur wat 'n skikking buite die hof beding. Hierdie is nie 'n dagvaarding om in die hof te verskyn nie en dit is nie 'n veroordeling nie. Dit is 'n versoek aan Israel om te luister. God roep Israel bymekaar, nie om uit te vind wie is die skuldige nie, maar om hulle te vergewe. Hy vra nie om vergoeding nie en Hy deel nie straf uit vir hulle verlede nie, Hy vra slegs dat hulle Hom moet gehoorsaam.
Die Here wil graag met sy volk redeneer. Meer nog, God begeer om sy kinders se verhouding met Hom te herstel en om vir hulle die beste te gee. Maar Hy beveel Israel nie net om Hom te gehoorsaam nie, Hy laat die besluit aan hulle oor. En vandag laat Hy hierdie selfde besluit aan jou oor.
Gebed: Here, dankie vir u vergifnis en genade al verdien ek dit nie. Dankie dat deur u Woord U met my redeneer, my vergewe en my verhouding met God herstel. Amen