Vers n dag - 13 September 2012
Hiskia se tweede gebed
Xanthe Galanis
In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.” Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia het bitterlik gehuil. Jesaja 38:1-3
Dit gaan nie so goed met die koning van Juda nie. Eers is sy stad bedreig en toe hoor hy dat hy gaan sterf. Gister het ons gesien hoe Hiskia die militêre krisis hanteer het. Vandag sien ons dat hy op dieselfde manier reageer toe hy 'n persoonlike krisis beleef. Onmiddellik nadat hy die nuus van sy naderende dood gekry het, het Hiskia 'n behoefte aan gebed; hy draai sy gesig na die muur en hy begin huil en bid. Daar is 'n les te leer vir ons in die manier wat Hiskia sy wense voor die Here bring. Dit was nie juis 'n besondere kalm of waardige gebed nie. Hy redeneer met die Here terwyl die trane vloei en hy pleit vir sy lewe.
Gebed is kommunikasie. In 'n gebed kan daar gekla en geredeneer word, ons kan hartseer wees en ons kan sê dat ons jammer is. Die Here sal luister na alles wat ons sê, ten spyte van hoe krom en skeef ons dit soms sê. Regdeur die Bybel lees ons van mense wat met God redeneer en in pyn tot Hom roep. Wanneer ons klaar uiting gegee het aan ons woede, opgehou huil en kla het en ons gebroke harte voor die Here uitgestort het, sal Hy begin om ons te vertroos. Wanneer ons stil word en niks meer het om te sê nie, kan ons op die Here wag en sy antwoord hoor. Miskien antwoord Hy nie op die manier wat jy wil hê of verwag nie, maar Hy sal antwoord. Ons kan op daardie belofte vertrou.
Vir Hiskia was gebed 'n deel van sy lewe, die manier om alles voor die Here te bring. Is gebed deel van jou daaglikse lewe?
Die Here het Hiskia se gebed verhoor, hy het sy trane gesien en dit het Hom diep geraak. Hy besluit om Hiskia se lewe met nog vyftien jaar te verleng. Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword. (Jes 38)
Gebed: Here, help my om U so te vertrou dat ek diep uit my hart uit kan bid. In die Naam van Jesus. Amen