Vers n dag - 12 September 2012
Die gebed van Hiskia
Xanthe Galanis
Toe het hy tot die Here gebid: “Here, Almagtige, God van Israel, U wat oor die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak. Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op! “Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap gesmaad!
Here ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat net U, Here, God is.” Jesaja 37:15-17, 20
Ons het van koning Hiskia en sy toenemende probleme gelees. Hy kry 'n boodskap van die hoofadjudant van die Assiriese leër wat reeds Jerusalem omsingel het, dat die stad moet oorgee. Hoe reageer Hiskia?
Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Hy het reguit na die huis van die Here toe gegaan en die briewe in die teenwoordigheid van die Here oopgesprei.
Sou my eerste reaksie gewees het om dadelik die Here se teenwoordigheid op te soek en te bid? Sou ek ontsteld gewees het oor wat daar van God gesê word? Sou ek die Here om beskerming gevra het?
Hiskia weet op wie hy moet vertrou. Lees gerus sy volledige gebed (Jesaja 37:16-20) en jy sal merk dat hy tot die 'Here, Almagtige, God van Israel' bid. In die gebed spreek hy God verskeie kere aan as Here en ook as die lewende God. Hiskia vertrou op die gesag en karakter van die Almagtige God, 'n God wat oor die gerubs troon en oor almal heers. 'n God wat die hemel en die aarde gemaak het. Hiskia kom ook dadelik tot die punt. Hy vra die Here om te 'hoor', te 'kyk', te 'luister' enbo-alles om hom en sy mense te 'red'.
In Hiskia se gebed is daar vrymoedigheid, afhanklikheid, vertroue, en begrip vir die karakter van God. Hiskia verstaan sy eie tekortkominge; dat hy swak is en dat daar net een plek is waarheen hy kan gaan vir beskerming.
Let ook daarop dat Hiskia nie net vir sy eie veligheid bid nie, maar hy bid ook tot eer van die Naam van die Here en dat al die onbereikte mense rondom hom sal besef wie God is en Hom sal eer. Is daar iets van die sendinghart van God in jou gebede?
Gebed: Here, so dikwels probeer ek eers allerhande ander dinge voordat ek in gebed die saak na U toe bring. Ek dank U dat ek met vrymoedigheid tot U kan nader want U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. Amen