Vers n dag - 17 September 2012
Jy is Myne!
Xanthe Galanis
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, Jesaja 43:1-2
Hoe dikwels het iemand nie al vir jou gesê: "Moenie bekommerd wees nie. Die Here het 'n plan!" Glo jy dit altyd? Of is daar soms kere wat jy by jouself dink: "Het Hy werklik 'n plan met my lewe? Hoe weet ek dat ek sy plan kan vertrou?"
Jesaja herinner ons daaraan dat God ons Skepper is, die Een wat ons gemaak het. Wanneer ons iets maak het ons gewoonlik 'n doel met dit wat ons maak. Die vraag is dus nou of, indien Hy ons gemaak het, is ons nie verplig om aan sy verwagtinge te voldoen nie? Doen is dit nie loop ons nie dalk die gevaar om deur 'n kwaadwillige en wraakgierige God gekonfronteer te word nie?
Ons Skepper sê egter onmiddellik dat ons nie bang moet wees nie en Hy gee ook redes daarvoor. Hy gee twee redes. Eerstens is Hy die Een wat ons verlos het. Dit dui op die wonderlike terugkoopplan van Jesus Christus wat deur sy dood aan die kruis duur betaal het om sy kinders vry te koop. Tweedens sê Hy dat Hy ons by die naam geroep het. Lees weer ons vers vir vandag en vervang Jakob en Israel met jou naam. Hoe laat dit jou voel? Die Here belowe dat Hy ons nooit sal verlaat nie en Hy sê baie duidelik dat ons aan Hom behoort. Hier het ons te make met 'n Skepper wat sy skepping liefhet. Wanneer jy iemand by die naam ken beteken dit dat jy hom persoonlik ken. Die persoon is nie net 'n gesig of 'n nommer nie. Die Here wil elkeen van ons persoonlik ken, Hy wil 'n persoonlike verhouding met ons hê.
En elkeen van ons moet 'n verhouding met Hom hê. Wanneer ons volkome afhanklik van Hom is, is ons besig om ons doel hier op aarde te vervul.
Gebed: Hemelse Vader, om te weet dat U my by die naam ken, is meer as wat ek ooit kan vra. Wanneer ek voel asof ek niks beteken nie of bang is, help my om U stem te hoor en veilig te voel in die wete dat ek aan U behoort. Amen
Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.