Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 18 September 2012

'n Fyn uitgewerkte plan

Xanthe Galanis

So sê die Here jou Verlosser wat jou in die moederskoot gevorm het: Ek is die Here, Ek het alles geskep, Ek sê vir die diep waters van Babel: Droog op! Ek sal jou riviere laat opdroog. Ek sê vir Kores: Ek het jou as herder aangestel, jy moet my wil uitvoer, jy moet van Jerusalem sê: “Hy moet weer opgebou word en die tempel moet herstel word.” Jesaja 44: 24a, 27-28

Daar is iets anders in hierdie spesifieke profesie.  Iemand word by die naam genoem eerder as om net 'n 'n algemene beskrywing of instruksie te gee.  Onthou julle wat ons gister gelees het – God ken elkeen van ons by die naam, en ons is Syne. Verder nog, Hy deel die toekoms met ons.

In hierdie Skrifgedeelte word die leser ingelig oor die toekoms en noem die Here 'n spesifieke individu by die naam.  Hy het Kores reeds voor sy geboorte geken.  Volgens inligting in Jesaja asook deur Esra 1:1-3 te lees kan ons aflei dat Kores die koning van Persië sou word; die koning wat die opdrag sou gee dat die tempel in Jerusalem herbou moes word.  Volgens geleerdes het Jesaja 150 jaar vooruit voorspel dat Kores sou heers!

Let op die verwysing na die "diep waters" en die riviere wat gaan opdroog.  Wat het dit met Kores te doen? In 539 vC, het Kores die stad Babel beleër. Die inwoners was egter nie bekommerd nie want hulle het genoeg voorraad vir 20 jaar in hulle store gehad.  Die Persiese leër het egter die Eufraatrivier wat onder die stad Babel deurgeloop het, herlei. Die watervlak het gedaal en die Persiese leër kon in die rivierbedding onder deur die poorte van die stad om die stad binne te val.  Babel het in die hande van Kores geval.

Ons God ken nie net die toekoms nie, maar Hy ken dit in die fynste detail.  Hy weet wat op ons wag en sy plan vir sy kinders is in die fynste besonderhede uitgewerk.  Hierdie God ken jou persoonlik en Hy het ook 'n fyn uitgewerkte plan vir jou lewe.

Gebed: Here, U is die Skepper wat my in die skoot van my moeder gevorm het, en U het 'n plan met my lewe – 'n plan wat hoop vir die toekoms bring.  Hemelse Vader, dankie dat ek op U kan vertrou. Help my om elke dag nader aan U te leef.  Amen

Previous article: Vers n dag - 19 September 2012 Prev Next article: Vers n dag - 17 September 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.