Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 September 2012

Sondige keuses – 'n voorspelbare einde

Xanthe Galanis

So sê die Here: Waar is die skeibrief wat Ek vir jou moeder gegee het toe Ek van haar geskei het? Of aan wie het Ek geld geskuld dat Ek julle daarvoor aan hom gegee het? Nee, dit is oor julle sondes dat julle verkoop is, oor julle oortredings dat Ek van julle geskei het Waarom was daar niemand toe Ek gekom het nie? Waarom het niemand geantwoord toe Ek geroep het nie? Is Ek nie in staat om te verlos nie, het Ek nie die krag om te red nie? Jesaja 50:1-2

Om vandag se teksvers te kan verstaan moet ons iets van die Joodse wette verstaan. Die profeet gebruik die wette van Moses in verband met egskeiding en slawerny as 'n analogie om te verduidelik dat Juda van God geskei is as gevolg van hulle eie sondes.

Die wette van Moses het bepaal dat wanneer 'n man van sy vrou wou skei, moes hy vir haar 'n skeibrief gee. (Deuteronomium 24:1-4). Hier in Jesaja sê die Here dat Hy nie amptelik van Juda geskei is nie. Hy impliseer 'n tydelike skeiding tussen "man en vrou" as gevolg van Juda se sondes.  Die Here het nie skuldeisers nie; Hy het sy "kinders" as gevolg van hulle sondes verkoop. Dit was hulle eie aksies wat daartoe gelei het dat hulle in slawerny na Babel weggevoer is.

Ons lees ook dat die Here sy kinders wou red, maar hulle het Hom nie geantwoord nie.  Dit was Juda wat die Here verwerp het en nie die Here wat Juda verwerp het nie.  Toe Hy terugkom om haar te red, was daar niemand om Hom te groet nie.  Hulle het ook verkies om nie die profete te glo wat gesê het dat hulle ballingskap in Babel net tydelik is nie.  Hulle het gedink dat dit nie vir die Here moontlik is om hulle te red nie.

Hoe meer tyd ons met die Here deurbring, hoe minder sondige keuses sal ons maak.  Verder in hierdie hoofstuk lees ons: "Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik … Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister." (Jesaja 50:4)  Begin sommer nou en gebruik vyf minute in die oggend om jou Bybel te lees en te luister na wat die Here jou wil leer.

Gebed: Hemelse Vader, soms word ek so deur my eie trots en arrogansie verblind, dat ek nie die rampspoedige gevolge van my sondige keuses kan insien nie.  Help my om na U te luister, om keuses in die lig van u Woord te maak en om te bly glo dat U my van my sondes sal verlos.  Amen

Previous article: Vers n dag - 20 September 2012 Prev Next article: Vers n dag - 18 September 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.