Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 21 September 2012

Die Messias

Xanthe Galanis

Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.  Jesaja 53:5

In 1741, het die Engelsman, Charles Jennens, 'n lys van Skrifgedeeltes saamgestel om die ware verhaal van die Christuskind te vertel. Jennens het 73 teksverse uit beide die Ou en die Nuwe Testament gekies om sy verhaal te vertel. Twee en twintig van hierdie teksverse het uit die boek Jesaja gekom.  Jennens het hierdie versameling Skrifgedeeltes aan sy goeie vriend, Georg Friederich Händel, gestuur.

In 'n tyd toe ongeletterdheid wyd verspreid was en eksemplare van die Bybel duur en skaars, het hierdie lys van Jennen Händel baie opgewonde gemaak.  Händel was reeds bekend met oratoriums, komposisies wat gebruik is om veral dele uit die Bybel te toonset.  Hy het besef dat 'n oratorium oor die lewe van Jesus van groot belang sou wees en het dadelik aan die werk gespring.  Binne slegs 24 dae het hy een van die mees geliefde, mees gewyde oratoriums van alle tye gekomponeer.  Jy mag dit ken: die Messias van Händel.

Die boek van Jesaja is baie prominent in hierdie werk van Händel. Maar veral een hoofstuk kom verskeie kere na vore – Jesaja 53.  Jesaja 53 is egter om 'n ander rede as Händel se gewyde musiek van die allergrootste belang.  Dit is 'n heenwysing na die lyding en dood van die Messias, God se gesalfde dienskneg.

Christus se lyding en dood aan die kruis is die kern van die Evangelie.  Ons sondes was die oorsaak dat Jesus moes ly en sterf en deur sy lyding en dood is ons genees.  Omdat Jesus vir ons gesterf het, is ons sondes vergewe. Omdat Jesus gely en gesterf het, is daar vrede tussen ons en God. Omdat Jesus gely en gesterf het, het ons die lewe, die ewige lewe.  Deur sy lyding en dood, het Hy ons met God versoen.

Die storie lui dat na die eerste uitvoering van die Messias het 'n entoesiastiese lid van die gehoor Händel gelukgewens met so 'n wonderlike stuk "vermaak". "Vermaak!" het Händel geantwoord.  "Dit was nie my doel om te vermaak nie, maar om te onderrig."

Gebed: Here Jesus, wanneer ek aan U werk aan die kruis dink en dat U die ongelooflike pyn namens ons gedra het, word ek oorweldig deur die grootsheid van u liefde. Ek dank U vir die kruis.  Amen

Previous article: Vers n dag - 25 September 2012 Prev Next article: Vers n dag - 20 September 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.