Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 25 September 2012

Die ware betekenis van 'n vasdag

Xanthe Galanis

Julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie. Jesaja 58:4

Die antieke Jode was wat ons vandag sal noem, 'n 'godsdienstige' nasie. Hulle het groot klem gelê op rituele, seremonies en tradisies.  Hulle liefde vir die seremoniële sou almal wat hulle dopgehou het oortuig het dat hulle 'n nasie is wat doen wat reg is. (v 2)  Al hulle godsdienstige praktyke het egter so belangrik geword dat hulle die dieper geestelike sy van hulle verhouding met God heeltemal uit die oog verloor het.  Hulle liefde vir al die rituele was groot, maar nie hulle liefde vir God of vir mekaar nie.

Jesaja 58 handel hoofsaaklik oor een van die Jode se godsdienstige praktyke – vasdae.  Die Jode het ongetwyfeld die vasdag "korrek" gedenk, veral wat al die uiterlike vereistes van so 'n dag betref.  Maar let op al die ander dinge wat aan die gang was, hulle het hulle werkers uitgebuit en onder mekaar baklei.  God het verby die korrekte tradisies en rituele gekyk en gesien dat hulle houding verkeerd was!

Jesaja kom en vertel aan hulle dat hulle vasdae 'n leë ritueel is en dat God geen behae daarin het nie. Hy verduidelik dan vir hulle wat 'n ware vasdag is: "Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?"(v 7)

Die Here wil hê dat ons vol aksie moet wees en deernis met ander moet hê. Om te vas beteken nie net dat jy sonder iets moet klaarkom nie, dit beteken dat jy iets van jouself aan ander sal gee. Jy vas en kom sonder kos klaar sodat ander kan eet. Miskien moet jy ou klere dra en jou beste klere vir iemand wat geen klere het nie, gee.  Miskien moet jy jou deur vir 'n vreemdeling oopmaak en jou huis met iemand wat geen heenkome het nie, deel.  Om te vas kan ook beteken dat jy jouself vir jou vriende en familie beskikbaar moet maak, al is dit ongerieflik en wil jy dit nie doen nie.

Gebed: Here, vergewe my vir al die kere wat ek net bloot die tradisies en rituele van godsdiens volg. Help my om u liefde teenoor ander uit te leef. Amen

Previous article: Vers n dag - 26 September 2012 Prev Next article: Vers n dag - 21 September 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.