Vers n dag - 3 Oktober 2012
ORE OM TE HOOR
Frank Retief
Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” Markus 4:9
Ons weet almal dat 'n mens soms hoor, maar eintlik hoor jy nie. Ek dink ons almal kan getuig van vervelige lesings, sprekers of gesprekke waar jy verplig was om deel te neem, maar die geleentheid of onderwerp het jou geensins geïnteresseer nie.
Jesus verwys na iets soortgelyks in hierdie vers. Hy het gekom as God se Koning om die mensdom te verlos, maar daar was baie teëstanders wat Hom nie wou glo nie en wat Hom openlik geopponeer het. Jesus het toe hierdie stelling gemaak wat 'n diepe waarheid bevat: slegs diegene wat wil hoor kan werklik hoor!
Dit is 'n feit dat baie mense nie 'n oor vir Jesus of vir die Woord van God het nie. Hulle blyk afsydig en onontvanklik te wees. Dit is slegs diegene wie se ore God geopen het wat werklik hoor wat Hy wil sê. Natuurlik is daar diegene wat dink dat hulle ontvanklik is vir God en vir godsdiens maar hulle is so vol van hulle eie idees dat die Woord van God geen kans het om in hulle lewens pos te vat nie.
Baie mense sal vandag beledig voel as daar gesuggereer word dat hulle nie na God luister nie, en meer nog dat hulle nie na Hom kan luister nie want "hulle ore is nie geopen nie". Dit is ongelukkig so dat baie mense dink hulle weet alles, maar eintlik weet hulle niks nie.
Wanneer ons sulke mense teëkom moet ons nie vir hulle kwaad word of hulle verwerp nie. Ons moet eerder onthou dat op 'n stadium was ons ook so. Toe is ons in genade deur God aangeraak en nou kan ons hoor en verstaan. Laat ons voortdurend die Here vra om aan ons oop ore te gee om sy Woord te hoor en te glo.
Gebed: “Hemelse Vader, dit is in U mag om die oë van blindes en die ore van dowes te open. Doen dit asseblief ook vir diegene wat nog in donkerte leef." Amen.