Vers n dag - 2 Oktober 2012
JOU SONDES WORD VERGEWE
Frank Retief
“Vriend, jou sondes word vergewe!” Markus 2:5
Daar is geen groter verlange in die hart en siel van die mens as om te hoor dat jou sondes vergewe is nie. So baie van ons se lewens is vernietig en ons drome lê aan flarde as gevolg van die foute van die verlede, oordeelsfoute wat ons begaan het, vinnige woorde, slegte aksies en verkeerde dade.
Spyt en vrees oorheers soms die denke van selfs die beste mense. Na haar dood in September 1997 publiseer Time Magazine 'n artikel oor Moeder Theresa met die titel,“Mother Theresa’s Crisis of Faith”. In hierdie artikel wat tien jaar na haar dood verskyn, word daar uit haar korrespondensie aangehaal en dit blyk dat hierdie vrou wat so hoog geag is, ook soms oor haar verhouding met God getwyfel het. Dit beklemtoon haar menslikheid en baie van ons kan met haar stryd identifiseer.
Hoe wonderlik om dan die woorde van ons Here Jesus Christus, ons Verlosser te hoor: "... jou sondes word vergewe!" In hierdie verhaal in Markus is die man nie na Jesus gebring om sy sondes te vergewe nie. Hy was 'n verlamde man en sy vriende het 'n opening in die dak gemaak sodat hulle hom voor Jesus kon laat afsak sodat Hy hom kon genees. Maar ons Verlosser is wyser as die wysste man en Hy sien 'n groter behoefte in hierdie man raak as bloot die genesing van sy ledemate, alhoewel dit ongetwyfeld ook 'n baie groot behoefte was. Hy het 'n nog baie groter behoefte gehad. Hy het 'n behoefte aan die vergewing van sy sondes gehad. Dit herinner ons daaraan dat soms verberg die uiterlike simptome wat ons ondervind 'n nog groter, dieper behoefte. Dikwels wanneer mense sukkel met byvoorbeeld 'n aanhoudende depressie of ander probleme, is die heersende probleem nie noodwendig die belangrikste probleem nie. Soms is daar 'n diep verborge behoefte. 'n Behoefte om vergewe te word vir 'n sonde of mislukking van die verlede wat diep weggesluit is in die persoon se gedagtes.
Let daarop dat die skrynwerker van Nasaret nie net die insig het om alles van ons te weet nie, maar Hy het ook, danksy wie Hy is en wat Hy vir ons kom doen het, die krag en die mag om ons te vergewe.
Miskien lees jy hierdie met 'n swaar gemoed. Wat kan jy doen? Jy kan na Jesus toe kom in volle vertroue dat nie net aanvaar Hy almal wat na Hom toe kom nie, maar Hy het die mag om ons sondes vir altyd te vergewe.
Gebed: “Here, U sien my hart, U ken my behoeftes. Vergewe asseblief al my sondes van die verlede. Ken my hart en maak my vry. Ek bid dit tot verheerliking van u Naam. Amen”