Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 5 Oktober 2012

ONVERWAGTE GEVOLGE

Frank Retief

Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos 'n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land.  Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.” Markus 4:30-32

Soms kan min woorde en dade baie groot gevolge hê.  Ons almal weet dit.  Dit is dan presies die beginsel van onverwagte gevolge wat Jesus in hierdie gelykenis gebruik.

Die gelykenis wat Jesus hier vertel, het miskien baie verspot geklink vir die wat na Hom geluister het.  Ek vermoed ook dat soms maak dit wat Jesus sê nie werklik 'n impak op ons nie omdat ons nie die agtergrond en gebruike van sy dag ken nie.

Almal het geweet dat 'n mostertsaad groei net tot so 'n mediumgrootte tuinplant en die idee dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak, was vir hulle lagwekkend.  Maar Jesus het doelbewus die krag van dié tuinplant oorbeklemtoon om 'n spesifieke punt te maak.  Die Here kan die kleinste dingetjie neem en hoe ongeskik dit ookal mag wees en ongeag die grootte daarvan, kan Hy alles en almal gebruik om meer werk vir sy koninkryk te doen.

Dit is hoe dit werk in die koninkryk van God.  'n Saadjie word hier en daar gesaai en as jy weer sien, is daar 'n Sondagskool waar daar voorheen niks was nie, of iemand wat alle hoop verloor het, word gehelp, of 'n verlore siel ontmoet die Verlosser en sy lewe word verander.

Ons moet nooit die klein dingetjies versmaai nie.  Wees altyd gereed om oor die Here met iemand te praat of om vriendskap aan iemand te bewys.  Jy weet nooit wat dit tot gevolg kan hê nie, of hoeveel seën dit in die lewe van iemand anders mag bring nie.

Gebed:  “Hemelse Vader, dankie vir u groot genade wat al ons sondes en foute bedek.  Neem my vandag, al is ek net 'n "mostertsaadjie" en gebruik my tot u eer in die lewens van ander." Amen

Previous article: Vers n dag - 8 Oktober 2012 Prev Next article: Vers n dag - 4 Oktober 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.