Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 8 Oktober 2012

VERWERPING

Frank Retief

"Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik.”  Markus 5:15

Ons geslag is gewoond daaraan om vreemde en eienaardige foto's of prente te sien.  Die filmwêreld en spesiale effekte lei daartoe dat ons voortdurend 'n skouspel verwag en ongelukkig is ons so bederf dat dit moeilik is om ons te beïndruk.

Maar hierdie verhaal in Markus 5:1-20 sal moeilik geklop word.  Dit is, om die minste te sê,'n bisarre verhaal, maar ons moet weet waarop ons moet let en wat dit is wat ons hieruit moet leer.

Eerstens is dit nuttig om te weet dat die streek wat Jesus volgens vers 1 besoek het, nie 'n Joodse streek was nie, maar 'n land waar nie-Jode gewoon het.  Die teenwoordigheid van die varke en die onaardse geskreeu van die man met die bose gees wat tussen die grafte gebly het, was heel waarskynlik alledaags in die bygelowige en donker wêreld van baie nie-Joodse gemeenskappe van daardie tyd.

Dan, let daarop hoe die bose geeste teenoor Jesus reageer.  Hulle het voor Hom neergeval en was bang vir Hom (vers 6 & 9).  Dit rede was dat die wêreld van die duisternis geweet het dat met die koms van Jesus hulle tyd verby was.  Jesus het gekom om die werk van die duiwel te vernietig en alhoewel hy nog nie vernietig is nie, is Satan in beginsel reeds verslaan en kyk hy reeds die verskriklike oordeel van God in die oë.

Toe smeek die bose geeste Jesus om hulle toe te laat om in die varke in te vaar en Jesus laat dit toe.  Die varke het op loop gesit en versuip en die inwoners van die gebied was verstom.

Wat was die doel met die verloop van hierdie verhaal?  Dit is alles so vreemd.  Hoekom het Jesus soontoe gegaan?  Hoe het die bose geeste Hom herken?  Hoekom het Hy hulle stilgemaak?  Hoekom het Hy aan hulle toestemming verleen om die varke in te vaar?  Hierdie vrae en nog meer kom by 'n mens op wanneer jy hierdie Skrifgedeelte lees.  Maar hierdie vrae is nie Markus se doel met hierdie gedeelte nie.  Hy wil hê dat ons moet sien hoe mense teenoor Jesus reageer.

'n Mens sou dink dat die arme verskrikte mense wat jare met hierdie mal man in hulle midde moes leef, dankbaar sou wees vir dit wat Jesus gedoen het.  'n Mens sou dink dat hulle Jesus na hulle dorpie toe sou nooi en Hom sou smeek om sy lig en krag te gebruik om ander te verlos.  Maar nee, niks hiervan nie!  Hulle dring by Hom aan om weg te gaan! Lees vers 17.  Is dit nie 'n vreemde reaksie nie?  'n Verlosser verskyn, maar Hy word weggestuur.  Maar in beginsel is dit niks anders as wat baie mense vandag nog doen nie.  Hulle sien die verskil wat Jesus in die lewens van ander maak, en tog is hulle vreemd bang vir Hom en keer Hom die rug toe.

Ken jy sulke mense?  Bid dat die Here hulle oë sal open en hulle harte ontvanklik sal maak.

Ten minste een persoon het Jesus verwelkom en sou by Hom gebly het – die man wie Hy verlos het. Maar Jesus gee aan hom dieselfde opdrag wat Hy ook aan jou en my wat sy verlossingskrag beleef het, gee: "Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het."

Gebed: "Hemelse Vader hoe hard kan ons harte nie wees nie.  Maar wees ons tog genadig o Here, en verlos ook my dierbares, hulle wat steeds in duisternis is.  Ek bid dit in die Naam van Jesus en tot sy eer alleen.  Amen

Previous article: Vers n dag - 9 Oktober 2012 Prev Next article: Vers n dag - 5 Oktober 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.