Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 10 Oktober 2012

DOEN DIT NOU

Frank Retief

Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie. Moenie vir iemand sê: “Gaan eers terug en kom môre weer, dan help ek jou,”

Spreuke 3:27-28

Hierdie is nou 'n woordjie op sy tyd vir ons almal.  In ons ou verdorwe natuur is daar 'n geneigdheid om suinig en selfsugtig te wees in ons gedagtes, woord en daad.  Ons vind dit soms moeilik om bly te wees wanneer iemand anders goed vaar en soms is ons vreeslik tevrede as iemand misluk.  Ons is ook geneig om ander te kritiseer eerder as om 'n persoon aan te moedig, ons dink eerder negatief as vol liefde oor mense.

Hierdie spreuk neem egter die teenoorgestelde standpunt in.  Soos God se regverdigheid en geregtigheid die lewens van die gelowiges van Israel heeltemal moes oorheers so moet dit ook wees met vrygewigheid en deernis.

So, as iemand goed gedoen het en 'n woordjie van aanmoediging verdien, hoekom dit nie doen nie? Dit kos ons niks en wie weet wat daardie "beloning" in dié persoon se lewe tot gevolg mag hê.  Daar is baie gevalle van 'n jong man of vrou wat op 'n stadium in hulle lewens wat hulle weerloos was 'n besluit moes neem wat uiteindelik, danksy 'n tydige woord van 'n vriend, tot seën vir baie ander was.  En met al die elektroniese hulpmiddels tot ons beskikking is dit so maklik om iets positief, opbouend en bemoedigend vir iemand te sê wat hard probeer om die regte ding te doen, maar wat miskien op die oomblik baie moedeloos is.

Dit is ook die geval met die voorsiening van materiële hulp.  Met die groot nood wat tans oral heers is dit baie moeilik om te weet vir wie om te gee en vir wie nie.  Maar dit is nie die probleem in hierdie spreuk nie.  Hierdie spreuk handel oor die innerlike spontaneïteit om te wil help.  Dikwels probeer ons hard om dit te regverdig hoekom ons nie geld of goedere gee nie – veral met die hoeveelheid bedelaars en swendelaars in ons gemeenskappe.  En tog word ons soms bewus gemaak van eerlike behoeftes waar ons kan help, selfs al is dit net 'n klein bietjie.  Die Bybel sê: "Gee nou" – nie eers môre nie.

Ek het lank gelede 'n sendelingvriend gehad wat uitgenooi is om die evangelie in 'n baie behoeftige plek te gaan verkondig. Hy het egter nie geld gehad vir die boot om hom na die plek toe te neem nie. Hy het oor die saak gebid en gewag, maar niks het gebeur nie.  Die gevolg was dat hy nie kon gaan nie en die geleentheid is gemis.  Die volgende dag het hy 'n brief ontvang van een van sy ondersteuners met die presiese bedrag wat hy vir sy reis benodig het, in die koevert. Die ondersteuner het geskryf: "Ek het beplan om die brief gister te pos.  Ek het 'n sterk drang gevoel om dit te doen, maar toe moes ek eers iets anders gaan doen.  Ek hoop jy kan hierdie geld vir die evangelie aanwend." Dit was wonderlik dat hy gegee het, maar hy het uitgestel en as gevolg daarvan was 'n goeie geleentheid om die blye boodskap te verkondig, verlore.

Vergelyk die woorde van hierdie spreuk met Jakobus 2:14-17.  Laat ons ons Vader in die Hemel nadoen en mense bemoedig en so ruimhartig en vrygewig wees as wat ons omstandighede dit toelaat.

Gebed:  “Hemelse Vader, U het u Seun na hierdie wêreld gestuur om ons te verlos. Hy is u enigste Seun. Vergewe asseblief my neiging om selfsugtig en suinnig te wees. Skenk aan my 'n vrygewige hart, en maak my tot seën vir diegene wat bemoedig moet word."  Amen

Previous article: Vers n dag - 11 Oktober 2012 Prev Next article: Vers n dag - 9 Oktober 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.