Vers n dag - 9 Oktober 2012
DIE KOSBAARSTE DING
Frank Retief
Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe. Spreuke 4:23
In die Markus Evangelie word ons voorgestel aan die volgehoue konflik tussen Jesus en die duiwel. Jesus is egter altyd die Oorwinnaar want Hy het alle mag in die Hemel en op Aarde. Ons moet ook onthou dat Jesus aan die kruis die duiwel vir ewig en altyd verslaan het.
Vandag egter wil ek dit beklemtoon dat die duiwel nie ons engiste vyand is nie. Ons eie harte kan ook 'n vyand wees. Wat word bedoel met ons "harte"? Dit verwys gewoonlik na daardie innerlike deel van ons waar ons dink, voel, besluite neem en ons lewens leef ‑ ons diepste, innerlike wese.
Dit is hierdie deel van ons wat deur die sonde aangeval word. Die ou natuur skuil nog daar en tree soms na vore en laat ons sondig. So, ons moet teen ons self waak. Ons moet versigtig wees en selfbeheersing uitoefen.
Die hart is ons vesting wat ten alle koste bewaar moet word. Daar word gesê: "bewaar jou hart meer as alles wat bewaar moet word". Ons doen soms meer moeite om ons huise en materiële besittings te bewaar as ons hart. Hoe bewaar jy jou hart? Al wat jy moet doen is om jou verstand te gebruik. In die eerste plek, moet dit nie doelbewus blootstel aan dinge wat besoedel nie. Stel dit eerder bloot aan daardie dinge wat jou in staat stel om meer godvresend te leef.
Let daarop dat ons vers sê: "meer as alles". Dit beteken dat jou geestelike lewe altyd die hoogste prioriteit moet geniet. Daar is baie dinge wat ons aandag aftrek en baie pligte wat ons aandag verg, maar ons moet om genade bid om altyd ons harte op die Here en sy Woord gerig te hou sodat ons te alle tye hulp van Hom kan ontvang.
Wat beteken "oorsprong van die lewe"? Dit beteken dat wat ook al ons harte besit en wat ook al die belangrikste liefde is wat daar woon, in die res van ons lewens neerslag sal vind. Soos 'n stroom ondergrondse water in 'n fontein uitborrel, so sal alles wat in ons harte is, uitborrel en ons lewens aanraak. Kom ons maak seker dat dit wat van ons innerlike wese uitborrel tot eer van God sal wees, ons lewens sal verryk, ander mense sal help en ons gemeenskappe positief sal beïnvloed. Ons moet ook onthou dat die verhaal van 'n Verlosser wat gekruisig is en opgestaan het, die middelpunt is van dit wat uit ons harte voortspruit.
Gebed: Hemelse Vader, ek weet dat my hart bedrieglik is. Daarom vertrou ek dit vandag opnuut aan U toe en bid dat U dit sal bewoon en met u genade en deernis sal vul. Mag ek vandag al hierdie kenmerke aan diegene met wie ek in aanraking kom en aan my vriende bewys. Amen