Vers n dag - 12 Oktober 2012
DIEN DIE HERE
Frank Retief
Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. Spreuke 1:7
Baie sal met my saamstem dat ons wêreld 'n behoefte het aan manne en vroue van integriteit en sterk morele waardes om leiers te wees. Daar is diegene wat van mening is dat 'n morele revolusie nodig is en ek dink nie ek is ver verkeerd as ek sê dat die hele wêreld siek en sat is van korrupsie en oneerlikheid nie. Ons samelewing is moreel bankrot. Wat staan ons te doen?
Volgens die Bybel het ons "wysheid"nodig. Wysheid is die vermoë om te weet wat om te doen, hoe om die regte besluite te neem en hoe om die lewe se slaggate te hanteer. Maar volgens die Bybel is daar ook so iets soos "anti-wysheid". Daarmee bedoel ek 'n alternatiewe opvatting van wysheid wat die lewe suiwer in wêreldse terme beoordeel en dit stel soms manne en vroue in staat om op 'n geslepe manier geld te maak en groot "empires" bou.
Die Bybel se beskouing van wysheid is egter anders. Die beginpunt is deur die Here te vrees, met ander woorde om Hom te dien. Dit is die taal wat in die Ou Testament gebruik word vir die vroom, toegewyde Hebreër wat waarlik die God van Israel vertrou. In Nuwe-Testamentiese terme beteken dit om waarlik in Jesus Christus, die Seun van God en ons Verlosser, te glo en om vir Hom te leef. Dit beteken dat alles in ons lewe by Hom begin. Ons dink anders oor die lewe. Ons ag dinge na waarde wat "anti-wysheid" ‑ wêreldse wysheid, nie doen nie. Ons waardeer dissipline, insig, sorg, geregtigheid, regverdigheid, kennis en diskresie. (1:2-4)
Ons lewensbeskouing is anders. Maar let daarop dat dit net waar word as ons die "Here dien". Wanneer ons Hom as Here van ons lewens en ons harte ag, is dat wat Hy belangrik ag ook vir ons belangrik. Die dinge van die wêreld is dan nie vir ons belangrik nie want die wêreld se waardes is vals en lei ons gewoonlik weg van dit wat werklik saak maak.
Let op hoe hierdie spreuk eindig: " dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag ".
In Spreuke word dwase dikwels genoem. Dit verwys nie na dom mense of na mense wat verstandelik vertraag is nie. In Spreuke is die dwaas eerder daardie persoon wat moreel en geestelik gestrem is. Hy dink daar is geen God nie (Psalm 14:1). 'n Dwaas is 'n persoon wat nie onderrig kan word nie. Dit maak nie saak wat jy sê nie in sy eie oë is hy altyd reg. " In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad." (Spreuke 12:15)
Bly eerder weg van mense wat nooit raad wil aanvaar nie en wat altyd glo dat hulle altyd reg is.
Onthou dat kennis begin met die dien van die Here. Wanneer ons verhouding met die Here reg is, val alles in plekDien Hom en niemand anders nie.
Gebed: Almagtige God, op 'n stadium was ek ook 'n dwaas wat gedink het my eie pad is die regte pad. Dankie dat U my oë geopen het en al my sondes deur Jesus Christus vergewe het. Ek vra dat U my van dwase gedrag sal weerhou en my 'n lig sal maak vir diegene in my kring wat nog in die duisternis is. Amen