Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 15 Oktober 2012

WAAR IS JESUS WANNEER EK HOM NODIG HET?

Frank Retief

Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” Markus 5:36

Dié verhaal in Markus 5:22-43 is baie interessant.  'n Bekommerde vader vra Jesus om sy 11-jarige dogtertjie te kom genees.  Hierdie man, Jaïrus, is nie 'n vyand of kritikus van Jesus nie.  Hy is maar net 'n pa, alhoewel hy belangrik in sy gemeenskap was want hy was een van die raadslede van die plaaslike sinagoge.

Ons lees dat Jesus saam met hom gegaan het, maar onderweg is Hy vertraag deur iemand anders met 'n groot behoefte.  Die vrou wat veroorsaak het dat Hy op pad na die dogtertjie eers gestop het, het reeds vir jare aan bloedvloeiing gely.  Ons kan maar net dink hoe sy fisies en sielkundig gely het, asook sosiaal want sy is as onrein beskou.  Indien sy getroud was, het haar man haar heel moontlik al verwerp.  Jesus stop eers en help haar.

Intussen wag die dogtertjie se gesin angstig op Jesus se koms.  Besef Hy nie hoe ernstig hulle dogtertjie se toestand is nie?  Hoekom kom Hy nie dadelik nie?  Hoekom laat Hy toe dat Hy vertraag word?

Hoe dikwels voel ons nie so nie.  Dit gaan nie goed met jou persoonlike omstandighede nie, jy is desperaat en jy bid tot God.  Maar niks gebeur nie. 

Dan kom die nuus dat die dogtertjie gesterf het.  Maar Jesus ignoreer die boodskapper en sê vir die raadslid om maar net te bly glo.  Glo in die noodlot, of in medisyne, in die onbekende of in wat?  Nee.  Glo in HOM.  Deur op Hom te vertrou sê ons eintlik vir Hom: "Ons glo dat U van God kom.  Ons glo dat U alle mag in die Hemel en op Aarde het.  Alhoewel ons nie u weë verstaan nie, weet ons dat nie net weet U die beste nie, maar  U sal doen wat reg is volgens u plan vir ons."

En soos ons weet, eindig hierdie verhaal goed. Die dogtertjie word genees en die gesin is vertroos.

Beteken dit dat daar altyd genesing vir ons is?  Of dat elke krisis positief opgelos sal word? NEE!  Wat hierdie wonderlike verhaal vir ons vertel is dat daar 'n dag sal kom wanneer Jesus ons almal uit die graf sal "opwek" en in die nuwe wêreld wat Hy sal bring, sal daar geen meer dood, siekte en hartseer wees nie.

Maar natuurlik vertel hierdie verhaal ook van die Here se deernis met ons hier en nou! Ons kan definitief ons angs en hartseer na Hom toe bring.  Maar onthou die dogtertjie het gesterf voordat sy opgewek is, en so is dit ook met ons.  Soms lyk dit asof ons omstandighede nie juis verbeter nie, inteendeel dit lyk soms asof dit versleg.  Met ander woorde soms lyk dit of die slegste moontlike met ons gebeur, sonder dat die Here ingryp.

Indien jy aan Hom behoort, weet dat Hy wat die mag oor alle dinge het steeds in beheer van jou omstandighede is.

Sy woorde aan jou is: "Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!"  Moenie glo in die mistieke krag van geloof soos baie bygelowige mense doen nie, maar glo in Hom, in sy liefde vir jou wat Hy deur sy dood aan die kruis bewys het. Glo dat Hy in beheer van jou lewe is en dat Hy alles ten goede sal laat meewerk tot eer van sy Naam.  Weet dat wat ook al die uitkoms van jou persoonlike dilemma mag wees, goed of sleg, jy is nooit uit sy hande nie, jy is nooit afgesny van sy sorg nie en jy is nooit buite sy plan vir jou lewe nie.

Gebed: Hemelse Vader, ek bely dat my geloof dikwels ver te kort skiet, veral wanneer dit met my sleg gaan.  Ek is baie swak. Skenk asseblief aan my die nodige krag sodat ek op U sal vertrou en ook in die liefde wat u Seun, Jesus Christus aan my bewys het deur vir my te sterf en op te staan sodat ek 'n wonderlike toekoms kan hê.  Amen

Previous article: Vers n dag - 16 Oktober 2012 Prev Next article: Vers n dag - 12 Oktober 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.