Vers n dag - 22 November 2012
Op die brandstapel van ligsinnigheid
Hennie Symington
Heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke gebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwermuntstukke werd was.
So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei. Handelinge 19:19
Nie baie mense weet wie Savonarola was nie. Hy was ʼn intelligente jong priester met ʼn baie sterk gevoel vir wat reg en verkeerd is wat gedurende die vyftiende eeu in Italië gewoon het. Hy het met oordrewe ywer gepreek teen die sondes van sy tyd en die vergrype van die pous en ander kerklui. Hy het selfs sover gegaan om die kerk as ʼn prostituut uit te kryt.
Hy het ʼn groot aanhang onder die gewone mense gehad, maar die adel en die kerklui wou hom kruisig. Op ʼn dag het hy die mense van Venesië uitgedaag om alles wat hulle tot sonde verlei op ʼn brandstapel te verbrand. En wat ʼn groot vuur was dit nie! Enige iets wat as verleiding beskou kon word het in rook opgegaan. Ongelukkig het almal so sat vir die arme priester geraak dat hy op die ou ent ook op die brandstapel verbrand is.
In Handelinge 19 lees ons ook van ʼn brandstapel waar nietigheid en ydelheid in vlamme opgegaan het. Toe ʼn klomp towenaars in Efese sien hoe kragtig Paulus werk om mense tot bekering te bring het hulle al hulle toorboeke – ons lees ter waarde van 50 000 silwerstukke in total – gebring om te verbrand.
Soms voel ʼn mens ook lus om ʼn brandstapel aan die gang te kry as ʼn mens kyk na van die dinge waarmee gelowiges vandag gekonfronteer word. Oral is daar boeke, flieks, tydskrifte, eposse, musiekvideos, webwerwe, straatplakkate, dwelms en drank wat die mens van sy moraliteit beroof en kinders se onskuld steel. As dit moet gebeur sal dit verseker die moeder van alle vreugdevure wees.
Natuurlik kan ʼn mens nie in vandag se tye loop en goed verbrand nie. Bou jy dus vir jou ʼn brandstapeltjie in jou binneste waar jy jou weerhou van sekere dinge wat jy weet ʼn vuurtjie van begeerte in jou of ander se harte gaan aansteek. So word jy nie maar net deel van die stroom van die tyd nie, maar staan jy as ʼn baken van lig vir ander wat ook sat is van ligsinnigheid.
Gebed: Here, kom met u heilige vuur en red ons van die dinge wat ons verslaaf en skoonheid en onskuld vernietig.