Vers n dag - 23 November 2012
Kraakvars Christene
Hennie Symington
“Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Johannes 3:3
Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. Efesiërs 4:22-24
Vir baie van ons is die lewe maar ʼn saai affere. Elke dag dieselfde roetine sonder die vooruitsig op verandering. Dis so maklik om in ʼn groef te beland waar ons later nie wil verander nie en nie regtig sien hoekom ons moet verander nie. Ons sê graag: Ek’s so gemaak en so gelaat staan. ʼn Luiperd kan tog nie sy kolle verander of jy kan ʼn ou hond niks leer nie.
As jy glo dat ʼn rowwe diamant nie geslyp kan word nie, ontken jy die mag van geloof om verandering te weeg te bring. As Christen gaan dit nie oor wie of wat jy is nie maar oor wat wie of wat jy kan word. God was so oortuig dat ʼn verandering van hart moontlik is, dat Hy hemel en aarde versit het om vir ons die moontlikheid op verandering te skep. Vir ʼn oomblik het God toegelaat dat hemel en aarde mekaar aanraak toe Hy Sy Seun gestuur het om as kind in ʼn stal gebore te word net sodat ons harte herbou kon word.
Dis nooit te laat om te verander nie. As jy mense gedurig aanstoot gee met jou ongeduld en onverdraagsaamheid is dit nou dit tyd vir ʼn sagter aanslag. As jy geen tyd vir die armes het nie, is dit nou die tyd om na hulle uit te reik in God se tyd waar selfs die geringstes onder ons saakmaak. Dit is nooit te laat om jou trots neer te lê by die krip nie. Jy kan weer gebore word. Jy kan die mens wees wat God jou bedoel het om te wees: ʼn skitterende diamant geslyp deur die Meesterslyper om jou beste eienskappe briljant te reflekteer.
Gebed: Here, vergewe my trots en maak U my hart oop vir die moontlikheid op verandering ter wille van u Seun wat van die hemel gekom het om dit hemel op aarde in ons harte te maak.