Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 27 November 2012

Gee jou siel ʼn blaaskans

Hennie Symington

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. ... My juk is sag en my las is lig. Matteus 11: 28,30

Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.

Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.

En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.

Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag. Jakobus 5:13-16

Die jaar het sy tol geëis. Die afgelope maande se koerante sê dit alles. Ons weet nie meer waarheen met die nood in ons land, die bekommernis in ons harte en die droogte van die die siel nie. Die gevolg? Die behoefte aan geestelike sorg is besig om teen ʼn geweldige pas te groei. Predikante, geestelike werkers en ander sielversorgers kan nie voorbly nie.

 Ook in ons eie persoonlike lewens sukkel mense om kop bo water te hou. Die ankers wat mense vroeër op koers gehou het, bestaan nie meer. Mense verwissel deesdae gedurig van huise, werk, woonbuurte en selfs lande. Omdat hulle voortdurend aan die beweeg is, voel hulle nêrens tuis nie. Hulle verloor hulle ondersteuningstelsels en wanneer mense geskei word van die bekende raak hulle angstig en kwesbaar. Soms bly jy agter in jou omgewing,  maar dis nie meer die ou bekende plek waar jy veilig voel nie.

Mense gaan ook deur ander krisisse soos egskeiding, die dood van ʼn huweliksmaat, werkloosheid, kinders wat aan dwelms verslaaf is, bejaarde ouers wat versorg moet word, verandering van werk, ens. Mense voel bedreig deur die omgewing en in hulle omgewing. Gʼn wonder ons is soms so sat van siel nie.

Ons almal soek ʼn plek om ons storie te vertel. Ons soek na ʼn oor om te luister, nie ʼn kalmeerpilletjie of iemand wat links of regs raad uitdeel nie .

Help jouself deur ander te help

Elkeen kan op sy manier geestelike sorg verskaf. Jy kan help deur te luister, aan te raak, te troos en te bemoedig selfs as jy voel jy’s eintlik die een wat geestelike sorg nodig het. Wie weet, dalk kry jy nuwe moed deur ander te vertroos. En weet dat God getrou is en jou ook in jou verlatenheid en onsekerheid op die hart dra.

 Gebed

Here, as dit vir my voel asof die wêreld op ʼn massa-senuweeineenstorting afstuur, stuur U mense en engele oor my pad om my op te help. Gee dat ek ʼn engel sal wees vir die een in nood wat oor my pad kom. Amen

Previous article: Vers n dag - 28 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 26 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.