Vers n dag - 28 November 2012
Geluk groei nie aan bome nie
ennie Symington
“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?” Matteus 6:25-2
Die mens is gemaak vir moeilikheid. “So seker was wat die vonke uit ʼn vuur spat, so seker is die mens van moeilikheid,” staan daar êrens in die Bybel. “Die mens is nie gemaak vir geluk nie,” het Samuel Johnson in 1776 gesê en ʼn sielkundige wat ʼn bietjie navorsing gedoen het, was verras om uit te vind dat 20% van Amerikaners hulleself as gelukkig beskou. “Ek het gereken dit sou baie minder wees,” het hy gesê.
Hoe meet ʼn mens geluk? Een manier is om al die oomblikke van geluk per dag op te tel en af te trek van al die oomblikke van ongelukkigheid. So wanneer laas het jy sommetjies gemaak van jou gelukkige en ongelukkige momente? ʼn Skrywer, May Sarton sê in haar boek Endgame dat dit absurd sou wees om lang tydperke van geluk afgewissel met lang tydperke van ongelukkigheid te verwag. Ons ervaar in werklikheid momente van geluk en momente van harsteer of ongelukkigheid dwarsdeur die dag. Elke dag bevat ten minste een gelukkige moment – selfs al is dit om ʼn voëltjie in die tuin dop te hou of jou hond wat jou met “ope arms” na ʼn dag se werk verwelkom.
In ons daaglikse interaksie met ons mans, vroue of kinders ervaar ons gedurig vreugdesmomente. Ons moet net ʼn slag tyd neem om ons geluk raak te sien. Of om meer geleenthede vir geluk te skep soos om vroeër op te staan en saam ontbyt te eet. Dit gaan nie oor wat gesê of gedoen word nie, maar die moment van intimiteit wat geskep word.
Geluk word nie in boeke oor geluk gevind nie. Geluk kan nie gekoop word nie. Geluk groei nie waar negatiwiteit gedy nie. Dit lê in spontane dade van liefde en omgee. Dit is om betekenis te vind in die alledaagse, die eenvoudige, die onromantiese, die gewone dinge wat ons doen. Kortom, geluk beteken om die heilige in die alledaagse te ontdek.
Here, open my oë vir oomblikke van geluk wat U so mildelik aan ons skenk en dikwels wanneer ons dit die minste verwag.