Vers n dag - 6 Desember 2012
Meditasie op ʼn reis deur die koninkryk
Hennie Symington
En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria sy moeder gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Matteus 2:11
En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ʼn heerlikheid soos die van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol genade en waarheid. Johannes 1:14
Niemand het ooit God gesien nie, die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. Johannes 1:18 (Afrikaans 1933/53-vertaling)
Hoewel ons ons reis deur die jaar einde se kant toe staan, is dit nog nie verby nie. Vandag word u genooi om op reis te gaan - ʼn reis met ʼn verskil. Dis nou nie ʼn oorsese reis of ʼn heen-en-weertjie na een of ander vakansieoord nie - maar ʼn reis na die verste grense van die siel waar jou geheime sondes lê en stof vergader op die solders van jou siel. Al wat jy nodig het op hierdie reis is stilte.
Dit is ʼn reis na die diepste, verste hoeke van jou hart. Dit kan ʼn reis wees na die droë landstreke van jou siel waar die waarheid lank reeds as oortollige bagasie langs die pad verlore geraak het. Dit kan selfs ʼn ekspedisie na die donkerste hoekies van jou gedagtes wees waar jou geloof vasgevang is in die welige groei van oorvloed wat keer dat jy die eenvoud van God se boodskap raaksien. Dalk is dit ʼn reis na eilande van verlatenheid waar jy verdwaal het op soek na jou siel.
Sou dit nie wonderlik wees om weer die pad huis te kry en te vind dat op jou reise na verlore paradyse Christus jou nooit verlaat het nie. Onderneem in hierdie adventstyd ʼn reis terug na die eenvoud van die krip waar jy die Kind in al sy eenvoud opnuut kan ontdek.
Gebed: Gees van God, wys my die pad na waar die onsigbare sigbaar word en die onmoontlike ʼn moontlikheid word omdat U, God, by die mens kom woon het.