Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 5 Februarie 2013

HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (Vir enige terugvoer of voorstelle, kontak ons op This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. As jy ’n getuienis het, stuur dit na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

DAG 17: NUWE HOOP ... WANNEER JY GOD VERTROU VIR BESKERMING

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bid jy daagliks vir jou verhoudings en ook jou geliefdes se beskerming? Besef jy dat jy sonder hierdie gebede ’n oop teiken vir die vyand word?

In die 1940’s is van die wêreld se voorste vegvliegtuie by die Lockheed-lugmagbasis net buite Los Angeles in Amerika vervaardig. Dit was ’n multimiljoen-dollar onderneming met die voorste tegnologie van daardie tyd.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die Amerikaanse weermag besluit om Lockheed as die lanseerplek vir verskeie van hul operasies te gebruik. Dít het die basis ’n warm teiken vir die vyand gemaak.

Gerugte dat die Japanese weermag ’n aanval beplan, het die gemeenskap om Lockheed in vrees laat leef. Hulle het besef dat die vyand die basis eerste sou probeer afvat. Die Amerikaanse weermag bedink toe ’n interessante, kreatiewe oplossing. Hulle sou die lugmagbasis en die gemeenskap rondom die basis met ’n bruin net kamoefleer sodat dit uit die lug vir vlieëniers na ’n stuk veld en plaashuise sou lyk. Dit het gewerk. Hoewel die vlieëniers oor die basis gevlieg het en duidelik daarna gesoek het, kon hulle dit nie opspoor nie. Duisende onskuldige lewens is in die proses gespaar.

Net soos die Japanese weermag ’n aanval wou loods, soek ons vyand, Satan en sy demone, ook daagliks na areas in ons lewens waar hulle ons kan aanval om ons lewens te verwoes. Tog, wanneer ons bid, span God ook ’n kamoefleernet oor ons geliefdes en ons verhoudings om só die vyand se aanvalle af te weer. 

In Job 1 lees ons dat Satan vir God toestemming vra om Job se geloof te toets. In vers 10 herken hy dat sy aanvalle oneffektief was omdat God Job beskerm het: “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?” Ook in Sagaria 2:5 lees ons hoe God Jerusalem beskerm het: “Die Here sê: Ek sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

God wil ons beskerm en sy plan vir ons is om in harmonie met mekaar te leef. Kom ons vra Hom dus om ’n muur van vuur rondom ons verhoudings en ook ons geliefdes te span. En kom ons leef só dat dit vir Hom lekker sal wees om ons van alle kante af te beskut. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u beskerming daagliks oor my en my geliefdes. Ek wil U asseblief vra om ’n muur van vuur rondom elke verhouding in my lewe te span. Lei my deur U Heilige Gees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk na foto’s van die Lockheed-lugmagbasis: http://www.youtube.com/watch?v=DgFJKtznKMo of op my webwerf, www.benescke.co.za

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za

Previous article: Vers n dag - 6 Februarie 2013 Prev Next article: Vers n dag - 4 Februarie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.