Vers n dag - 6 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (Vir enige terugvoer of voorstelle, kontak ons op
Dag 18: Nuwe hoop... met die wete dat God alomteenwoordig is
Deur Benescke Janse van Rensburg
Het jy al deur ’n seisoen in jou lewe gegaan waarin dit vir jou gevoel het asof iemand jou in ’n watertenk vol haaie gooi sonder ’n hok rondom jou wat jou beskerm? Of dalk of iemand jou in ’n veldslag instuur sonder enige ammunisie of wapenrusting? Of veel erger, asof jy met ’n spoed grond toe val en jy geen valskerm op jou rug dra om jou val te breek nie?
Ons is nie gevrywaar dat geen ongemaklike hindernisse ons paaie mag kruis nie. Tog kan ons weet dat God alomteenwoordig is. Wanneer dit dus voel asof die haaie in jou werkplek of besigheidswêreld jou wil verslind, plaas Hy ’n hok van beskerming rondom ons. In die veldslag in die vorm van ’n finansiële krisis of ’n siekte wat jou oorval, beskerm Hy ons van alle kante sodat geen noodlottige koeëls ons tref nie. En wanneer dit voel asof ons met ’n spoed grond toe val omdat ’n huwelik besig is om te verbrokkel of ’n verhouding met ’n kind net nie wil regkom nie, gee Hy nie net aan ons ’n valskerm om die val te breek nie; Hy plaas ’n hyser rondom ons, wat ons boontoe neem na hoogtes in ons verhoudings wat ons nog nooit voorheen beleef het nie.
God se woord beloof dat Hy agter, voor, langs, bo en onder ons is om ons daagliks te beskerm en te lei wanneer ons moed wil verloor:
GOD IS AGTER ONS:.
- Jesaja 30:21: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”
GOD IS VOOR ONS:
- Spreuke 3:6: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (1953-vertaling)
GOD IS LANGS ONS:
- Psalm 91:4,7: “God beskut jou onder sy vleuels en is vir jou 'n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante . . . Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.”
GOD IS BO ONS:
- Psalm 33:13-15: “Die Here kyk uit die hemel, Hy sien al die mense, Hy kyk uit sy woonplek wat almal doen, almal wat op die aarde woon. Dit is Hy wat hulle verstand gemaak het en Hy weet alles wat hulle doen.”
GOD IS ONDER ONS:
- Jesaja 40:31: “. . . dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”
God is alomteenwoordig. Hy weet wat in jou verlede lê en Hy bly lief vir jou. Hy weet wat in jou toekoms lê en daarom kan jy Hom vra om jou pad vir jou gelyk te maak. Hy is langs jou en kan jou van die gevaarlikste vyand beskerm. Hy is bó jou en sien jou selfs waar jy hierdie sit en lees en Hy lig jou van onder na hoër hoogtes terwyl Hy aan jou hoop gee wanneer jy jouself op moedverloor se vlakte bevind. Mag jy vandag nuut bewus word van sy teenwoordigheid in jou lewe. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir die wete dat U alomteenwoordig is. Help my om nooit hoop te verloor nie, maar myself eerder te herinner daaraan dat U slegs ’n gebed ver is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za