Vers n dag - 7 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (Vir enige terugvoer of voorstelle, kontak ons op
Dag 19: Nuwe hoop... met die wete dat God my gebede hoor – en verhoor
Deur Benescke Janse van Rensburg
Oor die afgelope paar dae het ek op verskeie geleenthede dieselfde vrae rakende stiltetyd en ons gebedslewe van lesers ontvang. Ek bespreek graag drie van die mees algemene vrae:
VRAAG 1: Hoekom is stiltetyd belangrik – en hoe moet ek stiltetyd hou
In Jakobus 4:8 lees ons: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.” Stiltetyd saam met God is ’n geleentheid om Hom beter te leer ken. Dit is ’n tyd waarin ons met Hom gesels, maar ook waarin Hy deur sy Heilige Gees met ons teruggesels.
Net soos daar nie ’n regte of verkeerde manier is om ’n vriendskap te bou nie, is daar ook nie ’n regte of verkeerde manier om stiltetyd saam met God te hou nie, aangesien elkeen van ons uniek is en daarom ’n unieke verhouding met God bou.
Wat egter help is om ’n spesifieke tyd in die dag vir stiltetyd saam met God uit te sit. Dit help ons om ons dag dan daarrondom te beplan eerder as wat ons so besig raak dat ons nie by tyd saam met God uitkom nie.
Ander hulpmiddels om jou stiltetyd effektief te benut, sluit in jou Bybel, ’n Bybelleesrooster, ’n joernaal en ’n dagboek of ’n elektroniese dagstukkie soos Vers-’n-Dag. Nadat jy die stuk (uit die dagboek of ’n elektroniese stuk) gelees het, kan jy die teksverse in die Bybel naslaan, verder lees, dit oordink en vrae wat jy het of iets wat vir jou uitgestaan het in jou joernaal aanteken. Jy kan dan daaroor bid.
Jy mag verbaas staan wanneer jy na ’n geruime tyd deur jou joernaal blaai en terugkyk na wat jy geskryf het, hoeveel keer God jou vrae beantwoord het en ook hoe Hy homself aan jou openbaar het!
VRAAG 2: Hoe weet ek of ek reg bid? Moet ek vir God, Jesus of die Heilige Gees in my gebede aanspreek?
Ons bid tot God, in die Naam van Jesus Christus deur die leiding van die Heilige Gees. Onthou egter dat God nie net na ons woorde luister wanneer ons bid nie, maar eerder na die ingesteldheid van ons harte kyk. Ons hoef Hom dus nie te probeer beïndruk deur ’n oorvloed hoogdrawende woorde nie (Mattheus 6:7). Wees net jouself.
In Mattheus 6:8-13 gee Jesus aan sy dissipels riglyne vir gebed: “So moet julle dan bid: ‘Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.’”
Onthou, God begeer dat ons hom genoeg vertrou om eerlik ons harte voor Hom uit te stort omdat Hy dan kan sien dat ons Hom waarlik met alles in ons lewens vertrou.
VRAAG 3: Hoe kan ek weet dat God werklik my gebede hoor?
Die vyand wil ons verhoed om tyd saam met God te spandeer. Hy sal ons dus met onbelangrike dinge in ons lewens probeer besig hou om te verhoed dat ons by God uitkom. As hy dit nie kan regkry nie, probeer hy ons oortuig dat ons gebede kragteloos is.
Die waarheid is egter dat God elke gebed op aarde hoor en op sy tyd verhoor. In Openbaring 5:8 lees ons dat die engele die gebede van die gelowiges regoor die aarde bymekaarmaak en dat dit soos reukoffers voor God se troon opgaan. In Jesaja 59:1 staan geskryf: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie.” En in Jakobus 5:16 word bevestig dat ons gebede krag het: “Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking.”
Kom ons maak stiltetyd vanjaar ’n prioriteit in ons lewens. Dit bly immers ons lewensaar wat ons in moeilike tye versterk en ons inspireer om ons geloof vir die onmoontlike in ’n onbeperkte God te plaas. Niks is vir Hom onmoontlik nie! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U elke gebed wat ek bid hoor. Help my om nie moed te verloor wanneer dit voel asof my gebede kragteloos is nie, maar te vertrou dat U op die regte tyd en manier sal antwoord. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za