Vers n dag - 8 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (Vir enige terugvoer of voorstelle, kontak ons op
DAG 20: NUWE HOOP ... MET DIE WETE DAT GOD JOU TOEKOMS KEN
Deur Benescke Janse van Rensburg
Stefan is ’n 15-jarige begaafde krieketspeler wat in Bellville woon. Vir die afgelope twee jaar was hy die enigste krieketspeler uit sy hoërskool wat vir die Westelike Provinsie o/19-krieketproewe genooi is. Aan die begin van die jaar het hy en sy enkelma egter ’n uitdaging in die oë gestaar. Hy is reeds 1,9 meter lank en dra ’n nommer 12 skoen en sy toerusting was besig om vinnig te klein vir hom te word. Die finansiële druk by die huis het dit egter vir sy ma onmoontlik gemaak om vir hom nuwe kriekettoerusting te koop.
Dít was die rede vir haar e-pos wat sy verlede Maandag aan Radio Tygerberg gestuur het. Saam met haar e-pos het sy ook ’n getuigskrif van Stefan se krieketafrigter ingesluit waarin hy ons vertel het dat hy besluit het om Stefan weens sy besonderse talent gratis af te rig aangesien hy bewus was van die finansiële uitdaging in Stefan se gesin.
Een van my kollegas by die werk was diep geraak deur die e-pos en hy het besluit om uit sy eie sak vir Stefan been- en handskutte te gaan koop. Teen Woensdagoggend kon ons vir Stefan tydens ons oggendprogram, Oggendrooi op Radio Tygerberg bel met die nuus van die nuwe toerusting. Hy was in ekstase. ’n Paar van ons luisteraars het dadelik na die aankondiging via ons SMS-lyn in die ateljee vir ons laat weet dat hulle ook ’n finansiële bydrae vir Stefan se toerusting wou lewer. Teen Vrydagoggend kon ons hom weer bel met die nuus dat ons ook vir hom nuwe skoene, ’n kolf, ’n helm en ’n toksak tot die lys van nuwe toerusting kon voeg.
Ná Vrydag se program het ek ’n oproep van ’n luisteraar genaamd Paul gekry. Hy het vir ’n geruime tyd in Londen krieket gespeel. Met sy terugkeer na Suid-Afrika, het daar iets fout gegaan op die Heathrow-lughawe en sy toksak met al sy kriekettoerusting het daar agtergebly. In Suid-Afrika was hy genoodsaak om vir hom nuwe toerusting aan te koop aangesien hy by ’n plaaslike klub vir krieketwedstryde moes opdaag. Hy het die nuwe toerusting vir twee of drie wedstryde gebruik voordat sy toksak uit Engeland opgedaag het. Dit is nou ’n paar jaar later en die bykans splinternuwe toerusting staan steeds in sy motorhuis. Hy het genoem dat hy dit aan Stefan wil skenk. Wat vir my uitgestaan het, was dat al Paul se toerusting die groottes is wat Stefan benodig – selfs die nommer 12 paar skoene! Paul het ook aangebied om Stefan te kontak om hom aan te moedig met sy krieket of as ’n tipe mentor vir hom op te tree.
Paul se oproep het my laat besef dat ’n mens op een van twee maniere na hierdie insident kan kyk. Aan die eenkant kan die feit dat die toerusting die regte groottes is en dat Paul vir Stefan wil ondersteun ’n blote toeval is. Tog, aan die ander kant kan mens dit as ’n goddelike ingryping beskou en sien hoe God self betrokke was. Hy het Paul se tydelike ongerief, terwyl sy toerusting in Londen gestrand was, gebruik het om alles in plek te kry omdat Hy geweet die toekoms ken en geweet het dat Stefan die nuwe toerusting en ook Paul se ondersteuning in ’n tyd soos hierdie gaan benodig.
Besef jy dat God ook jou toekoms ken en dat Hy weet wat jy gaan benodig nog voordat jy dit self weet? In Psalm 139:7-12 herinner die Psalmdigter ons dat God oral is: “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.” En in vers 16 word bevestig dat God ons elkeen voor ons geboorte reeds geken het: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.”
As jy dus vandag mismoedig voel, begin God dank dat Hy ook in beheer van jou hede en toekoms is. Jou tydelike ongemak mag dalk al wees wat Hy benodig om jou karakter te vorm en dinge agter die skerms in plek te plaas sodat jy ook op die regte tyd jou deurbraak kan beleef. Sterkte!
Vader God, baie dankie dat U ook my toekoms ken. Help my om nie ongeduldig te raak as dinge ongemaklik in my lewe raak nie, maar eerder my oë op U te hou met die wete dat U die groter prentjie sien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien foto van Stefan op my Liglag-blog op my webwerf, www.benescke.co.za. Alternatiewelik besoek die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy – en word ’n lid van die groep.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.