Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 11 Februarie 2013

HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (Vir enige terugvoer of voorstelle, kontak ons op This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. As jy ’n getuienis het, stuur dit na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

DAG 21: NUWE HOOP... MET ’n STERKER GESIN

Deur: Benescke Janse van Rensburg

Gestel jy stap saam met ’n eiendomsagent jou droomhuis binne. Alles is presies soos wat jy daarvan hou – die dekor, die uitleg van die huis en selfs die grootte. Jy kyk nog rond toe hy die sleutel van die huis aan jou oorhandig met die woorde: “Hier, dis joune!” Net soos die agent die huis verlaat klink donderweer in die verte op. Jy kyk boontoe. Wat?! Met ’n skok besef jy dat jou droomhuis geen dak nie! Die donker wolke hang swaar bo jou huis en jy weet daar is niks wat jy kan doen om te verhoed dat die storm verwoesting in jou huis gaan saai nie.

Wanneer ons nalaat om vir ons gesin se beskerming te bid en ook nie God se beginsels vir ’n effektiewe gesin volg nie, word ons net so weerloos soos die huis sonder ’n dak. Die vyand loop rond soos ’n brullende leeu en hy wil gesinne verwoes.

God is ’n God van orde en daarom gee Hy in sy Woord aan ons riglyne om ’n effektiewe gesin te bou. Hoe lyk God se orde vir die gesin? As jy ’n piramiede teken, is God heel bo, dan die man, dan die vrou, dan die kinders en heel onder die diereryk. Sodra enigeen van dié groepe uit die rangorde beweeg en probeer om ’n ander se plek in te neem (byvoorbeeld, ’n gesin stel God nie eerste nie, ’n man neem nie verantwoordelikheid as leier van die huis nie, maar laat dit aan sy vrou oor of ’n vrou ondermyn haar man se gesag en probeer self hoof van die huis wees of kinders rebelleer teen hulle ouers), veroorsaak dit wanorde en konflik in die gesin. Die huis is skielik sonder ’n dak en die vyand het volle toegang om verwoesting in die gesin te saai.

Wat sê God in sy Woord oor ons rolle in die huisgesin?

 

Man teenoor sy vrou:

  • Kolossense 3:19: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie.”
  • Efesiërs 5:21, 25: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig . . . Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.”
  • 1 Petrus 3:7: “Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle . . . Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.”

Wanneer ’n man sy vrou liefhet en koester, ervaar sy (en die kinders) ’n gevoel van veiligheid en sekuriteit. Die kinders hanteer die ma ook met meer respek en terselfdertyd word ’n positiewe voorbeeld by hulle gevestig wat hulle heel moontlik in hulle eie huwelike eendag sal dupliseer.

Vrou teenoor haar man:

  • Efesiërs 5:21-24: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.

’n Man se liefde en respek teenoor sy vrou veroorsaak dat sy hom wil eer en respekteer. Onderdanigheid teenoor haar man word dan vir haar ’n voorreg omdat sy onder haar man inbeweeg om hom met haar ondersteuning en bemoediging van onder af op te lig om te word wie God hom geskep het om te wees.

Ouers teenoor hulle kinders:

  • Efesiërs 6:4: “Moenie julle kinders só behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.”
  • Kolossense 3:21: “Moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.”
  • Spreuke 29:17: “Gee jou seun ’n goeie opvoeding en jy sal gerus wees oor hom; hy sal jou baie vreugde verskaf.”

Ouers het die vermoë om met hulle woorde aan hulle kinders vlerke te gee om hoë hoogtes te bereik óf om hulle vlerke te knip. Kom ons bid dus vir ’n wag voor ons mond om ons kinders só groot te maak dat dit ’n glimlag op God se gesig sal plaas!

Kinders teenoor hulle ouers:

  • Efesiërs 6:1-3: “Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. ‘Eer jou vader en jou moeder sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.’”

Eer jy jou ouers deur met respek teenoor hulle op te tree – selfs al stem jy nie saam met die manier waarop hulle hul lewens lei of die besluite wat hulle neem nie?

Is daar ’n dak bó julle huisgesin of is julle ’n oop teiken vir die vyand? Onthou, selfs al is jy ’n enkelouer kan God jou deur sy Heilige Gees met wysheid lei om elke situasie reg te hanteer – mits jy en jou gesin Hom eerste plaas. En net soos wanorde families uitmekaar laat spat, sal vrede en kalmte neerdaal wanneer die lede van die gesin hulle regmatige plekke inneem sodat God die familie kan beskerm. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir die riglyne wat ek daagliks uit u Woord ontvang. Versterk my en lei my om met wysheid op te tree as ’n krisis my familie tref. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting, besoek Benescke se webwerf by www.benescke.co.za

Previous article: Vers n dag - 12 Februarie 2013 Prev Next article: Vers n dag - 8 Februarie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.