Vers n dag - 12 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 22: NUWE HOOP. . . MET DIE REGTE PERSPEKTIEF OP DIE LEWE
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Wingerdboer het op sy sterfbed met ’n probleem gesit. Sou sy drie seuns, wat bederf grootgeword het, na sy dood verantwoordelikheid vir hulle lewens kon neem? Hy was nie seker nie en bedink toe ’n plan. Met sy drie seuns langs sy sterfbed het hy aan hulle gesê: “Daar is ’n skat in my wingerd begrawe. As julle diep genoeg en op die regte plek daarvoor soek, sal julle dit ontdek.”
Ná sy dood het die wingerdboer se seuns met pik en graaf die wingerd ingevaar. Hulle het die stuk land van hoek tot kant omgedolwe op soek na die skat. Daar was egter geen teken daarvan nie. Tog, omdat die grond van die wingerd so deeglik omgespit was, het hulle daardie jaar die grootste druiweoes nóg gehad.
Waar die seuns aanvanklik teleurgesteld was omdat hulle nie die skat kon vind nie, het hulle later besef dat hulle pa hulle op dié manier wou leer dat sukses nie oornag kom nie. Jy moet hard daarvoor werk. En soms. . . soms lyk ’n skat anders as wat ’n mens aanvanklik dink.
Sukses vereis harde werk en deursettingsvermoë ten spyte van mislukking. Henry Ford het twee groot mislukkings in sy lewe deurgegaan (een hiervan toe hy bankrot verklaar is), voordat hy sy suksesvolle Ford Motormaatskappy opgebou het. Walt Disney is as joernalis afgedank weens sy “gebrek aan kreatiwiteit” voordat hy bekendheid verwerf het vir onder meer films en produksies soos Mary Poppins, Mickey Mouse, Pinocchio en Bambi. En die X-factor en Idols-beoordelaar, Simon Cowell het op 15-jarige ouderdom skool verlaat en moes hard werk om aan die lewe te bly voordat hy by ’n platemaatskappy ’n werk gekry het. Uit sy ervaring daar het hy later sy eie maatskappy begin en word hy vandag as een van die mees suksesvolle en welgestelde musiekbase in die wêreld gereken.
Harde werk en deursettingsvermoë te midde van teleurstelling lei nie net eindelik tot sukses nie, maar ons karakter word in die proses gevorm terwyl ons ons afhanklikheid van God besef. Ons lees immers in Romeine 5:3-5: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Het jy dalk onlangs misluk? Moenie toelaat dat een mislukking in jou lewe ’n punt plaas waar God ’n komma wou sit nie. Gebruik die ervaring eerder as ’n trappie om volgende keer vinniger verby die hindernisse te beweeg tot waar jy sukses kan smaak. Saam met God is daar geen perke op wat jy nog in jou lewe kan vermag nie! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek U mag vra om my Leidsman op my pad na sukses te wees. Verhoed dat ek verkeerde besluite neem en lei my op die regte pad sodat ek U naam deur my sukses kan verheerlik. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.