Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 20 Februarie 2013

HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

DAG 28: NUWE HOOP . . . MET DIE WETE DAT JY VIR GOD GOED GENOEG IS

Deur Benescke Janse van Rensburg

Ek kry gereeld e-posse van lesers wat getuig dat hulle met ’n swak selfbeeld of minderwaardigheidskompleks sukkel. Hier is twee voorbeelde van hierdie tipe e-posse:

Leser 1: “Vandat ek kan onthou is verwerping ’n groot uitdaging in my lewe. Hoe ouer ek word, hoe erger word dit. Help asseblief!”

Leser 2:“Hoe leer ’n mens om jouself lief te hê? Na die geboorte van my seun het ek begin sukkel met my gewig en selfbeeld. Ek is regtig raadop! Wat moet ek doen?”

In aanloop tot Valentynsdag verlede week, het ons by Radio Tygerberg se oggendprogram, Oggendrooi ’n projek geloods waar luisteraars die spesiale persoon in hulle lewens kon nomineer wat ons dan om die beurt by hulle onderskeie werksplekke sou gaan verras. Die SMS’e het ingestroom en ons het ’n paar luisteraars geïdentifiseer – onder wie ’n 9-jarige seuntjie uit Durbanville wat ’n SMS ingestuur het dat ons sy klasmaat, “die mooie Layla” soos hy haar beskryf het, by hulle skool moes gaan verras.

Die dag voor Valentynsdag het ons ons span met rooi hartjiebalonne, blomme en sjokolades na die seuntjie se skool in Durbanville gestuur. As deel van die projek bel ons gewoonlik ons veldaanbieder uit die ateljee en ons gesels ook met die persoon wat verras word om hulle reaksie op die verrassing te kry. By die skool opgedaag het die seuntjie se ouers en ook dié van Layla opgewonde buite hulle klaskamer gewag. Aan die binnekant het Layla gesit – totaal onbewus van wat op haar wag. Met die oorhandiging van die geskenke en die geselsie op die radio was dit duidelik dat sy totaal oorweldig was. Die seuntjie het met ’n breë glimlag gestaan en die res van hulle klasmaats het dit duidelik gemaak dat hulle gewens het dat dit hulle was wat só verras kon word.

Na afloop van al die opgewondenheid het Layla se ma, met trane in haar oë, aan ons veldaanbieder vertel dat God werklik goed is. ’n Week vantevore het sy en haar dogter in die motor gery toe Layla skielik vir haar ma sê dat sy nie spesiaal voel nie en dat niemand ooit iets spesiaal vir haar doen nie. Met die keuse van die SMS was ons totaal onbewus hiervan, maar God het Layla se woorde in die motor gehoor en Hy het ons gekies om sy liefde aan haar te demonstreer as bewys dat sy spesiaal in sy oë is. Dié gebeurtenis het my aan die woorde in Mattheus 6:8 herinner: “...julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”

Omstandighede, optrede of woorde van mense of traumatiese insidente kan ons soms van ons eiewaarde stroop of ons minderwaardig laat voel. Die vyand hou daarvan omdat hy weet dat dit ons passief en selfs depressief kan maak. God weet egter van elkeen van ons en Hy het soveel gedagtes oor ons elkeen soos die hoeveelheid sandkorrels van die see (Psalm 139). Luister gerus weer na hierdie beloftes uit sy Woord:

·         Jeremia 1:5: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken . . .”

·         Job 34:19: “Hy (God) bevoordeel die ryke nie bo die arme nie, want Hy het hulle almal gemaak.”

·         Lukas 12:7:  “Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Voel jy soos Layla eens gevoel het – asof jy nie spesiaal is nie? Of sukkel jy soos Leser 1 met verwerping of soos Leser 2 om jouself weens jou uiterlike voorkoms te aanvaar? Begin herinner jouself dan dat jou naam in God se handpalm gegraveer is. Hy weet hoeveel hare op jou kop is en Hy het vir jou planne van voorspoed en nie teëspoed nie. Vir Hom is jy goed genoeg. Hou gerus jou oë oop. Hy mag dalk ook in jou lewe die vreemdste dinge gebruik om sy liefde aan jou te demonstreer omdat Hy dink jy is besonders en uiters spesiaal! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my liefhet. Help my om nie in myself te twyfel nie maar my identiteit in U te vind. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Sien foto van Layla op Valentynsdag op www.benescke.co.za of die sosiale netwerk Fbook se bladsy, STORIES VAN HOOP.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za.

Previous article: Vers n dag - 21 Februarie 2013 Prev Next article: Vers n dag - 19 Februarie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.