Vers n dag - 9 April 2013
6. Die koninkryk hier en nou
Hennie Symington
Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie. Markus 1:15
Die Koninkryk is by ons
Die wêreld waarin ons leef is nie ’n plek waar ons maklik vrede vind nie.Ons word snags wakker met ’n gevoel van benoudheid terwyl ons diep in ons harte droom van ’n plek waar ons ’n rustige en vreedsame lewe kan lei.
Dikwels is dit God wat in die diepte en donkerte van die nag kom jou ’n ander perspektief op die lewe te gee, wat jou bewus daarvan maak dat die koninkryk naby jou, langs jou, rondom jou en in jou is en ook die plek waarna ons almal reikhalsend uitsien.
Wat beteken dit vir my?
As jy kan begryp en aanvaar dat God nou en hier teenwoordig is, kan jy glo en aanvaar dat God se liefde en ondersteuning nou en hier in jou lewe aktief is.
Om met ’n bewustheid van die koninkryk binne-in jou te leef beteken om al hoe meer bewus te raak van God se teenwoordigheid wat jou ’n ander kyk op die lewe gee. Te midde van die chaos rondom jou, raak jy ook bewus van die harmonie van die lewe wat soms net tydelik uit die oog verloor word.
My roeping in die koninkryk
As die koninkryk van die hemel ver is maar terselfdertyd reeds teenwoordig is, is dit die taak van Christene om aktief besig te wees om God se koninkryk sigbaar te maak. So, in plaas daarvan om die oë net op die horison van die hiernamaals te hou, moet ons bewus wees van die tekens van God se koninkryk in ons tyd en daaroor verheug wees.
Gebed vir vandag:
Vader, dankie dat die koninkryk nie onbereikbaar ver op die horison van die ewigheid lê nie, maar dat dit die ruimte is waarin ek my nou en hier bevind sonder einde en allesomvattend. Amen