Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 15 April 2013

Wanneer gebed ’n “slegte” gewoonte is

Hennie Symington

Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. Matteus.6:7 - 9

Eendag baie jare gelede sleep ’n godvresende vrou en ’n voorbidder in die gemeente haar “slegte” man wat liewer vir die bottel as die kerk was, na’n Pinksterbiduur toe. Op ’n stadium pomp sy hom in die ribbes om te bid. Hy staan toe maar op en na ’n lang tyd begin hy: “Onse Vader, wat in die hemel is ...” En toe stilte. Uiteindelik sê hy net: “Ag Here, ek ken nie die ding nie. Amen.”

Die vraag is dan: Is daar iets soos ’n “slegte” of “verkeerde” gebed? Ek weet nie maar soms rammel ons sommer ’n daaglikse gebed af omdat ons voel ons moet bid. Soms bid ons sommer ’n formulegebedjie uit gewoonte of omdat ons nie nie heeltemal seker is of God luister nie. Ons doen dit vir die wis en die onwis sonder om regtig te glo dat dit ’n verskil in ons lewens maak. Gelukkig lees ons ook dat God elke elke smeking en elke versugting van ons hart aanhoor.

Vir baie van ons is gebed net ’n middel tot ’n doel. Ons is lief om te sê: “Ek bid maar het nog nie antwoord teruggekry nie. Ek hoor niks van God nie.” Ons vergeet God het sy Woord aan ons bekend gemaak deur die geskiedenis – in jou persoonlike geskiedenis sowel as die van die wêreld waarin ons leef. Ons moet daarop ingestel wees om dit raak te sien.

Die “Onse Vader” immer nuut

Tog is daar ’n volmaakte “formulegebed” wat al vir twee duisend jaar gebid word en steeds ons elke behoefte aanspreek. Die “Onse Vader”-gebed word al vir eeue lank gebid en tog bly dit tydloos. Op ’n doodeenvoudige manier sê dit alles wat ’n mens nodig het oor gebed. Ons weet aan wie ons ons gebed rig, ons gee erkenning aan God as ons Vader wat buite ons werklikheid bestaan. Dit gee ’n duidelike riglyn oor dankbaarheid en vergifnis en bevestig dat God ons Vader is van toe af tot in ewigheid.

Ns. Maak seker jy, jou kinders en jou kleinkinders ken hierdie gebed wat die eeue en die aarde omspan uit die hart en uit die kop uit.

Gebed vir vandag

Here, gee dat die woorde van my mond en die meditasies van my hart aanvaarbaar sal wees vir u. Amen

Previous article: Vers n dag - 16 April 2013 Prev Next article: Vers n dag - 12 April 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.