Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 16 April 2013

As gebed te kort skiet

Hennie Symington

“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’

“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.” Lukas 18:10-14

Ons smag almal na ’n buitengewone ervaring wannneer ons bid, terwyl ons glo dis iets wat net beskore is vir die heel vromes, die heiligstes onder die heiliges. Natuurlik is daar iets soos ’n mistieke ervaring, maar dit is net een aspek van gebed. In die Onse Vader het Jesus juis vir ons gewys hoe alledaags en naby aan ons eie bestaan gebed kan wees. 

Bid sonder ophou al is jou gebed net: “Here, ek kan nie bid nie. My gebed slaan teen die plafon vas.” Of: “Here, Ek weet nie eens of U regtig bestaan nie. Kom my ongeloof te hulp.” Bid net, al voel jy soos die arme tollenaar wat in die verste hoek staan en bid want ons God is getrou al raak ons langs die pad ontrou.

Maak gebed jou tweede taal

Gebed moet ons tweede taal wees. Dit moet so nou verweef wees met ons gedagtegang dat ons nie altyd weet wanneer dit begin en wanneer dit ophou nie. Enigiemand wat jou wil wysmaak dat gebed iets meer of iets minder is, is besig om God se gawe van gebed aan die mens, te beperk tot iets wat net vir ’n uitgesoekte groepie mense bedoel is.

Gebed

Here ek voel soms of my gebed net tussen die mure van my hart bly staan. Kom binne Heer, en maak my hart oop vir die vir die taal wat U praat.

Previous article: Vers n dag - 17 April 2013 Prev Next article: Vers n dag - 15 April 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.