Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 17 April 2013

In ’n geestelike niemandsland?

Hennie Symington

Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”

Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”  1 Konings 19:4-5

My God, my God,

            waarom het U my verlaat

en bly U ver as ek om hulp roep?

My God, ek roep bedags en U antwoord nie,

ook snags, maar ek kry geen rus nie. Psalm 22:2-3

Wie kan ons van die liefde van Christus skei?….. In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. Romeine 8:35a, 37

Sielstilstand

Daar kom ’n tyd in elkeen van ons se lewens wanneer jy jou in die die niemandsland van die geloof bevind. Dit is die tye wanneer dit voel asof daar niks is wat jou kan red uit die verlatenheid van ’n gevoel dat daar ’n onoorbrugbare afstand bestaan tussen jou en die veilige sekerheid van ’n God wat hoor, ’n God wat sien en ’n God wat antwoord.

Dit is ’n tyd van die groot stilte. Dis nie net die gevoel van God wat jou nie antwoord nie, maar jyself ervaar ’n onvermoë om jou tot God te rig in gebed. Dis nie asof jy ontken dat God daar is nie, jy het dit net nie in jou om na hom te roep nie.

Wag met verwagting

Wanneer dit gebeur is dit ’n tyd om laag te lê. Dit is nie die tyd om wilde uitsprake te maak oor ’n God wat nie daar is nie, of ’n God wat nie omgee nie. Dit is die tyd om te wag met verwagting dat God sal antwoord soos wat Hy in die verlede geantwoord het.

Miskien is dit die tyd om die gallery van moedeloses te besoek en te kyk na die lang ry van gelowiges wat gevoel het God is nie meer daar nie: Elija onder die besembos, Job op die ashoop, Dawid in die spelonk op vlug, Jesus wat uitroep aan die kruis: “My God, waarom het U my verlaat?”.

Hierdie stilte voor God is dikwels die teelaarde vir ’n groter begrip van die diepte van jou bestaan en die hoogtes van God se genade. Jy sal weer die sagte ruising van God se stem in jou lewe hoor. Jy sal weer die versekering hê dat God jou nie vergeet het nie. Jy sal saam met Christus die opstanding tot ’n nuwe lewe ervaar.

Gebed vir vandag

Here, wanneer dit winter in my lewe is, stuur U ’n duif op my pad om my aan u teenwoordigheid te herinner.

Previous article: Vers n dag - 18 April 2013 Prev Next article: Vers n dag - 16 April 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.