Vers n dag - 18 April 2013
Om tot seën vir ander te wees
Hennie Symington
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Filippense 4:4-5
Ek ken iemand wat gereeld soos ’n vars bries deur my lewe waai en al my pessimistiese gedagtes soos mis voor die son laat verdwyn. Sy’s een van daardie wat deur haar spontane liefde vir mense brûe bou en vooroordeel afbreek net waar sy gaan. Sy praat nie teologie nie, sy praktiseer dit.
In ’n klein dorpie waar daar baie armoede en groot behoefte aan hulpverlening is, klim sy in haar skedonkie en ry deur die strate van die township op soek na mooi stemme vir ’n koor. En terwyl sy na stemme soek, maak sy vriende vir ’n vale.
Langs die pad sien sy ’n man loop met ’n sak kalbasse wat sy vir musiekinstrumente wil gebruik. Een, twee, drie laai sy hom in haar karretjie.om genoeg geld te gaan trek vir die kalbasse. En in die proses maak sy ’n vriend van ’n vlugteling wat geen vriende in hierdie land het nie. En so gaan sy deur die dag, sonder inagneming van haar eie vooroordele en gerief.
Spesiale gawes?
Begenadigde mens, dink ons terwyl ons vergeet God het ons elkeen begenadig met sy Gees wat ons vaardig maak om sy werk in die Koninkryk te doen. Staan ’n slag op van jou knieë af op en gaan doen God se werk.
Ns. Die geheim van haar sukses? Sy het geleer om te luister na elkeen van hierdie benadeelde mense en hom of haar as mens raak te sien. God seën M op W.
Gebed vir vandag
Here, ek sak my kop in skaamte wanneer ek dink aan hoe min ek doen om ander met die liefde van Christus te bedien. Dankie vir sulke mense wat u oor my pad stuur.