Ons kan leef met Sy krag - 19 Junie 2013
Carina Francke
2 Petrus 1:3 -4:" Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur die begeerlikheid in die wêreld werksaam is en deel kry aan die goddelike natuur."
Die woord 'lewe' verwys na die fisiese en die geestelike dimensie van ons bestaan. In die fisiese weet ons dat iemand lewend is as hy asemhaal of beweeg, maar lééf hy? Laat ek verduidelik: hy staan op, doen sy dagtaak, kom huis toe, hoor so terloops hoe dit met sy huismense gaan (miskien), en gaan slaap..... maand in en maand uit. 'n Monotone bestaan.
Om werklik te leef is om op 'n ontdekkingstog van lewe-dinge te wees: pouseer om intensioneel na 'n sonsopkoms te kyk; eet met dankbaarheid jou brood; hou jou sintuie skerp sodat die onverwagse jou kan verryk, maar meer nog, wees mens vir ander mense rondom jou. Dit is die soort dinge wat jou in oorvloed laat leef, wat betekenis gee aan jou bestaan.
Maar lewe gaan veral oor die geestesdimensie - oor die mens se gees wat lewend gemaak is omdat hy in Jesus glo en Hom leer ken het. Hierdie verhouding deponeer God se krag in jou lewe en daarmee saam ook gawes wat jou in staat stel om weg te hardloop van die geestelike agteruitgang of verrotting wat deur die verleiding in die wêreld aan die gang is. Jy beskik nou oor wapens wat "vestings kan vernietig, asook redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word, en elke gedagte gevange neem om dit aan Chistus gehoorsaam te maak." (2Kor10:4,5)
Jy hoef meer die knie te buig voor versoekings nie - Sy goddelike krag stel jou in staat om dit te weerstaan. Jy kan beheer neem oor jou ronddwaal- en twyfelgedagtes; jy kan slim, verwarrende praatjies onbloot vir wat dit is - leuens; en jy kan vry raak van enige verlede-dinge wat jou in kettings hou.
Die wêreld hoef nie meer jou leefwyse, voorkeure, emosies en optrede te dikteer nie. Nee, jy behoort aan Hom - jy is deur Hom geroep en Sy gawes aan jou word jou paspoort na vryheid. Meer nog, hierdie gawes stel jou in staat om deel te kry aan Sy goddelike natuur, om soos Hy te word sodat jou lewe al hoe meer 'n spieël van Sy heerlikheid word.
Gebed: Onse Vader, my hart loop oor van blydskap oor die lewe wat daar in my verhouding met U bestaan. Dankie dat ek my fisiese lewe vreugdevol kan leef en dat my geestelike lewe 'n oorwinningslewe is omdat U krag in my leef. Amen