Ek verander deur Goddelike krag - 20 Junie 2013
Carina Francke
2 Petrus 1:3 :" Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien."
2 Petr 1:10:"Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen sal julle nooit struikel nie."(NAV)
Ons weet alreeds dat omdat ons God ken, kan ons werklik lewe en hoef ons nie net 'n bestaanslewe te voer nie. Ons het deel gekry aan Sy goddelike aard en natuur en kan dus godvrugtig te lewe, Hom dien deur die manier waarop ons leef, asook ontkom aan die verrotting van die wêreld. Ons moet egter verstaan dat dit Sy krag is wat ons verander, maar om die verandering te lééf, is en bly ons verantwoordelikheid. Ons moet dus uitwerk en soek hoe om die verandering neerslag te laat kry in ons lewens, want slegs dan kan ons lewens Hom vereer en bewys lewer dat Hy ons geroep en verkies het; dat ons aan Hom behoort.
Waar soek ons dan? In die Woord wat deur God self ingegee is. (2 Tim 3:16,17)
Petrus maak dit vir ons baie maklik as hy agt opeenvolgende boustene uitlê: "Verryk jou geloof met deugsaamheid, deugsaamheid met kennis, kennis met selfbeheersing, selfbeheersing met volharding, volharding met godsvrug, godsvrug met liefde onder mekaar en liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. (2 Petr 1:5-7)
'n Veranderde lewe begin by jou geloof in Jesus Christus en dit word sigbaar in deugsaamheid, of soos Augustinus dit stel, 'n goeie leefstyl is die kind van geloof. Jy moet egter kennis hê om te weet hoe lyk 'n goeie leefstyl volgens God se standaarde, en dit vind ons in die Bybel. As jy God ken, word selfdissipline of selfbeheersing moontlik en jy kan doen wat jy geleer het. Maar een keer se doen is nie genoeg nie, jy moet daarmee volhard. Volharding vra 'n lewe van godsvrug, 'n lewe wat naby aan God gelei word, want dit is sy Gees wat in ons werk en ons daartoe in staat stel (Fil 2:13). Hierdie nabyheid aan God vind uiting in liefde vir ander gelowiges en uiteindelik in liefde vir alle mense. Maar as jy nog nie geleer het om met medegelowiges om te gaan en hulle lief te hê nie, hoe sal jy Jesus se liefde aan mense wat nie deel van Hom is nie, kan betoon?
Gebed: My Vader, ek wil deur my lewe bewys dat U my geroep en verkies het. Dankie vir U goddelike krag wat my daartoe in staat stel, maar dit ook vir my moontlik maak om U met my hele hart, siel, krag en verstand lief te hê en te dien. Amen.