Dra vrug - 21 Junie 2013
Carina Francke
"Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek on vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar? Maar Hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom ander jaar uitkap." Luk 13:7-9
Ons is besig om te gesels oor hoe ons as gelowiges God se koninkryk op aarde "sigbaar" kan maak. Jesus se voorbeeldvertellings en Sy omgang met mense word ons bron van inligting.
By die lees van die gelykenis oor die vyeboom, dit duidelik dat die eienaar vrug verwag - van die wingerd en die vyeboom - al staan laasgenoemde uit as "anders; vreemd; raar" tussen die wingerdstokke. Omdat die vyeboom aan presies dieselfde gunstige omstandighede as die wingerd blootgestel is, is daar geen rede waarom dit nie vrug kan dra nie. As jy burger van Sy koninkryk is, verwag hy vrug in jou lewe want jy is: "uitgekies en aangestel om vrug te gaan dra en vrug te bly..."(Joh15:16)
Al het die eienaar die volste reg om die boom te laat uitkap, pleit die tuinier vir nog 'n kans. Hy onderneem om ekstra aandag aan die versorging van die vyeboom te gee in die hoop dat dit vrug sal dra, maar die realiteit is, dra dit nie vrug nie, sal dit uitgekap word, want nie net is dit onvrugbaar nie, maar dit put ook die grond uit. As jou lewe so lyk, het ek vir jou goeie nuus: soos die eienaar van die wingerd deur sy derde besoek kans gemaak het vir genade, so skep God geleenthede vir nog genade in jou en my lewe.
Die Tuinier, Jesus Christus, ken God se genade en vra vir nog 'n kans om jou vrugdraend te maak. Hy onderneem om Self die hardheid in jou lewe om te spit en om jou van die nodige te voorsien om vrug-groei aan te help.
Waarom die klem op vrug wat gedra moet word?
Jy word geken aan die vrugte wat jy dra. Goeie vrugte lewer dus getuienis van 'n heilige, groeiende en toegewyde lewe aan Jesus Christus. So byvoorbeeld is dit wat in jou hart aangaan en dan in woorde by jou mond uitkom, 'n kenbare vrug vir almal wat dit hoor. (Luk 6:44,45). Is jou woorde van so 'n aard dat Sy koninkryk sigbaar word vir die omstanders?
Gebed: Vader, baie dankie dat U geleentheid soek om genade te betoon en Jesus, dankie dat U onverpoosd in my werk om my te laat vrug dra. Maak my oë en ore oop vir enigiets wat verhinder dat U vrug in my sigbaar is. Amen