Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dra vrug - staan by mense stil - 24 Junie 2013

Carina Francke

Lukas 8:42-45: "En terwyl Hy gaan, het die skare Hom verdring. En 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie, het van agter gekom en die soom van Sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.  Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het?"

In bogenoemde Skrifgedeelte is twee individue ter sprake: 'n gesiene man wat pleit vir die lewe van sy sterwende dogtertjie en 'n siek verstote vrou wat genesing vir haarself soek, sonder dat sy gesien word. Oppad na die dogtertjie, onderbreek Hy sy reis om aandag te gee aan die vrou wat in geloof net aan die soom van Sy kleed raak en onmiddellik gesond word. Jesus wil egter meer van haar weet as bloot dat sy gesond geword het - Hy wil haar as mens ken - Hy wil haar totale mens bedien. Toe sy dus na vore tree, sê Hy vir haar: "Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede."(v 48)

Hierdie onderbreking weerhou Hom egter nie om steeds aandag aan die dogtertjie te gee nie, al het sy reeds gesterf. By haar huis aangekom, gryp Hy haar hand en roep uit: "Dogtertjie, staan op! En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee." (v54-55)

Jesus se lewe het die vrug gedra van die lewe waarvoor Hy bestem was - om mens vir mense te word, ongeag hulle stand, geslag of ouderdom.  Hierdie vrug van gehoorsaam-heid dra egter nog 'n groter vrug - Sy Vader word daardeur vereer.

In praktiese terme verteenwoordig vrug goeie werke - 'n goeie daad, gedagte, gesindheid en leefwyse wat God verheerlik/ vereer.  Maar dit behels meer as 'n meganiese doen van goeie dade - dit moet aangevuur word deur liefde vir God en liefde vir mense.  Daarsonder is goeie werke net liefdadigheid; goeie werke ter wille van goeie werke self,  en dit baar selfverering. 

Hierin is Jesus ons voorbeeld - Hy het nooit ter wille van 'n goeie daad by mense stilgestaan nie, maar Hy het die mens agter die mens raakgesien en met liefde ook hulle gees, hulle totale menswees aangeraak. En uiteindelik was Sy goeie daad 'n vrug  wat Sy Vader verheerlik het.

Gebed: My Vader, dankie dat ek vrug kan dra deur die Gees wat in my woon. Weerhou my daarvan om goeie werke te doen net om my gewete te sus, maar help my om die mens agter die mens raak te sien sodat U op die ou einde ook in hulle lewens vereer kan word. Amen

Previous article: Dra vrug - betoon liefde - 25 Junie 2013 Prev Next article: Dra vrug - 21 Junie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.