Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dra vrug - betoon liefde - 25 Junie 2013

Carina Francke

Joh 13:34,35: "Ek gee julle 'n nuwe gebod:  julle moet mekaar liefhê.  Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle my dissipels  is."(NAV)

Ons Skepper se koningskap in ons lewens word sigbaar gemaak deur die vrugte wat ons dra en die een gebod wat alle ander omarm, is die een van liefde. Dit is die opdrag wat impliseer dat elkeen wat ons pad kruis, in ons 'n ander  gesindheid, optrede, manier van praat, waardes en respek teenoor hulle sal raaksien.

Die gebod van liefde is nie nuut in die sin dat ons mekaar moet liefhê nie - dit is 'n opdrag sedert die vroegste tye (sien Lev 19:18) - maar dit is revolusionêr in die sin dat ons soos Jesus moet liefhê. Liefde is meer as warm gevoelens, soentjies en drukkies - dit is 'n gesindheid wat homself openbaar in dade en in hoe jy teenoor ander optree.  Die hart van Jesus se liefde is opofferend, selfs al het dit Sy lewe gekos. Hy sê self: "Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê." (Joh 15:13)

Moet ons só liefhê? Ja!

Onmoontlik! Ja! ......as ons dit in ons eie krag probeer doen. Om hierdie rede het die Vader die Heilige Gees aan ons gegee sodat Hy ons kan leer, kan help en lei om so lief te hê.   Die vraag is net: hoe swaar steun ons op Sy werking en inspraak in ons lewens en hoe gehoorsaam is ons in dit wat Hy vir ons sê?

Hoe leef ons die liefde prakties uit? "Nie met woorde nie, maar met die daad en in waarheid "(1Joh 3:18). Deur hulp te verleen wanneer dit ongeleë is; deur te gee wanneer dit seermaak; om tyd en energie aan ander se welsyn eerder as jou eie te spandeer.

En te reageer op wat die Gees op jou hart druk.

Wat is Jesus se doel met hierdie liefdes-opdrag?  Om op sigbare wyse aan almal, veral aan 'n stukkende wêreld,  te toon hoe lyk mense wat Sy volgelinge is; hoe hulle teenoor mekaar optree; hoe hulle mekaar dien, versorg en ondersteun. En die groter doel hiermee: ongelowiges moet deur hierdie liefde bekendgestel word aan die verbysterende, opofferende liefde van Jesus wat 'n pad gebaan het sodat elkeen wat in Hom glo, uit die dood geruk kan word om deel te kry aan 'n lewe in Hom.

Gebed: Hemelse Vader, ek is te vol van selfliefde om mense op hierdie goddelike manier lief te hê, maar ek kies vandag om my voete in U spore te plaas en daarin te begin loop; ek kies om my hand in U s'n te plaas sodat U my op die paaie van geregtigheid en ware, goddelike liefde kan lei.  Amen. 

Previous article: Dra vrug - aangename woorde - 26 Junie 2013 Prev Next article: Dra vrug - staan by mense stil - 24 Junie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.