Dra vrug - aangename woorde - 26 Junie 2013
Carina Francke
Kol 4:6:"Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord." (NAV)
Woorde kan soos lawa uit jou mond spoeg en vernietig, of dit kan soos koel fonteinwater lafenis bring. Woorde is seker een van die belangrikste maniere om te verrraai aan wie jy behoort, want wat ookal by jou mond uitkom, het sy oorsprong in jou hart. (Matt 15:18,19). Geen wonder nie dat Spr 4:23 leer: "wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe." (NAV)
Waarom word daar in die Bybel soveel klem gelê op wat ons sê? Miskien lê die antwoord by die Outeur van woorde, God. Toe Hy woorde gebruik, skep Hy, en alles in die hemel, die see, en op aarde kry vorm en lewe. Sy woorde voor die skepping van die eerste mense, lê reeds hulle aard vas: "Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis." (Gen 1:26).
Is dit dan vreemd dat Hy 'n skrywer inspireer om die volgende woorde neer te pen? "Dood en lewe is in die mag van die tong." (Proverbs 18:21). Jy kan met dít wat jy sê, lewe of dood spreek. Verstaan mooi, woorde beskik nie oor magiese krag nie, maar het 'n ongelooflike invloed op die mens se psige - dit besmet die hele liggaam: "Dit steek die hele lewe, van die geboorte tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek" (Jak 3:6)
Is dit dalk waarom Paulus skryf dat ons gesprekke vriendelik moet wees en van goeie smaak moet getuig? Of dat ons die omstandighede van elke gesprek moet 'lees' en net opbouende en goeie gesprekke moet voer? (Efe 4:29). Kan dit wees dat bedrieglike en verkeerde gesprekke ons liefde vir die lewe kan steel en ons verhinder om 'n goeie lewe te geniet? (1Petr 3:10)
Waarom hierdie klem op goeie gesprekke en goeie woorde? Ek en jy moet as beelddraers van God, Sy koningskap in ons lewens sigbaar maak en ons woorde moet "...genade kan gee aan die wat dit hoor." (Efe 4:29). Ons is geskep as fonteine wat soet, drinkbare water moet voorsien aan 'n wêreld wat dors is om waarheid en geregtigheid in aksie te sien.
Gebed: My Vader, laat die woorde van my mond en die oordenkinge van my hart welbehaaglik wees voor U aangesig. Mag my woorde van so 'n aard wees dat mense U stem daarin hoor. Amen.